Gaan na inhoud

Brussel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Brussel • Bruxelles

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van België België
 Gewes (deelstaat) Brussel-Hoofstad
 Koördinate 50°51′N 4°21′O / 50.850°N 4.350°O / 50.850; 4.350
 Stigting 979
 Oppervlakte:  
 - Totaal 32,61 vk km
 Hoogte bo seevlak 15–100 m bo seespieël
 Bevolking:  
 - Stad Brussel (1 Januarie 2017) 174 272[1]
 - Bevolkingsdigtheid 5 344,1/vk km
 - Brusselse Hoofstedelike Gewes 1 183 545
 Tydsone UTC+1 (MET)
 - Somertyd UTC+2 (MEST)
 Burgemeester (bourgmestre) Philippe Close (PS)
 Eerste Minister (Gewes) Rudi Vervoort (PS)
 Amptelike Webwerf brussels.irisnet.be

Brussel (Nederlands en Afrikaans: [ˈbrʏsəl], ; Frans: Bruxelles, [bʁysɛl], ; Duits: Brüssel; Engels: Brussels) is die hoofstad en politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van België met 'n oppervlakte van 32,61 vierkante kilometer en 'n bevolking van 168 230 (soos op 1 Januarie 2014) in die historiese kernstad wat as Stad Brussel (Ville de Bruxelles) bestuur word.

Saam met 18 ander nedersettings in sy omgewing vorm Brussel 'n metropolitaanse gebied met meer as 1,1 miljoen oorwegend Franssprekende inwoners wat van hierdie histories Nederlandssprekende stad tans een van die grootste Franssprekende agglomerasies buite Frankryk asook die mees noordelike stad van die Romaanse taal- en kultuurgebied in Europa maak. Vanweë sy rol as Belgiese hoofstad is Brussel nogtans amptelik tweetalig, waarby sommige openbare instellings ook Duitse benamings het. In meerdere opsigte word die kernstad en die munisipaliteite van die omliggende agglomerasie as 'n eenheid geadministreer.

Die Europa-gebou (Bâtiment Europa), setel van die Europese Raad en die Raad van die Europese Unie

Die stad vervul sowel nasionale funksies as administratiewe hoofstad van die Gewes Brussel-Hoofstad (Brusselse Hoofstedelike Gewes of Région de Bruxelles-Capitale) en die Franse en Vlaamse Gemeenskappe van België, asook internasionale funksies as die administratiewe hoofstad van die Europese Unie, as die setel van 120 internasionale organisasies en 159 ambassades met meer as 2 500 diplomate, wat van Brussel die tweede belangrikste stad vir diplomatieke betrekkinge na Washington, D.C. maak. In 2009 was Brussel die wêreld se tweede belangrikste kongresstad ná Singapoer.[2]

Brussel huisves ook die hoofkwartiere van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), die Sekretariaat-Generaal van die Benelux-Unie van België, Nederland en Luxemburg en sowat 1 400 nie-regeringsorganisasies (NRO's). Die stad word deur twee moderne lughawens bedien, Brussel-Nationaal in die Vlaamse voorstad Zaventem en Bruxelles-Sud ("Brussel-Suid") in Gosselies naby Charleroi.

Brussel beskik oor 'n markplein wat onder die mooistes ter wêreld gereken word (die Grand-Place of Groot Markplein van Brussel), tientalle musea en voorbeelde van historiese boustyle. Terselfdertyd is dit 'n stad wat steeds vernuwing ondergaan en daar is nou moderne stadswyke wat deur administratiewe en sakegeboue oorheers word.

Uitgestrekte parke en bosgebiede in die stad self en in die omgewing is rusplekke vir die besige Brusselaars. Besienswaardighede buitekant Brussel sluit die Forêt de Soignes ("Zoniënwoud") en die Koninklike Museum vir Sentraal-Afrika in Tervuren ('n oostelike Vlaamse voorstad), asook die dorpie Waterloo (in die provinsie Waals-Brabant) in, waar met die historiese slag van die jaar 1815 die tydperk van Napoleon Bonaparte tot 'n einde gekom het.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Volgens die mees algemene teorie oor die oorsprong van die naam "Brussels" is dit ontleen aan die Oudnederlandse Bruocsella, Broekzele of Broeksel wat "moeras" beteken (bruoc / broek) en "tuis", "nedersetting" (sella / zele / sel), dus "nedersetting in die moeras".[3][4] Vindicianus, biskop van Cambrai, het in 695 vir die eerste keer verwys na die plek as Brosella[5] toe dit nog 'n gehug was. Al die name van die munisipaliteite rondom Brussel is ook van 'n Nederlandse oorsprong, behalwe vir Evere, wat moontlik van 'n Keltiese of Frankiese oorsprong is.[6]

In Frans word Bruxelles uitgespreek as [bʁysɛl] (; die x word soos in Engels [s] uitspreek en die laaste s is stil) en in Nederlands word Brussel uitgespreek as [ˈbrʏsəl] (). In Frans word inwoners van Brussel Bruxellois ([bʁysɛlwa], ) genoem en in Nederlands Brusselaars ([ˈbrʏsəlaːrs], ). In die Brabantiese dialek van Brussel (bekend as Brussels en soms ook Marols of Marollies genoem),[7] word hulle Brusseleers of Brusseleirs genoem.[8]

Oorspronklik is die geskrewe x uitgespreek as [ks]. In die Belgiese Franse uitspraak het, soos in Nederlands, die k eindelik stil en z 'n s geword, soos dit in die Nederlandse spelling voorkom, terwyl in die meer behoudende Franse vorm die spelling nie verander is nie.[9] In Frans dateer die uitspraak [ks] slegs uit die 18de eeu, maar dié verandering het nie die tradisionele Brusselse gebruik beïnvloed nie. In Frankryk kan die uitsprake [bʁyksɛl] ( en [bʁyksɛlwa] (vir bruxellois) dikwels gehoor word, maar hulle is nogal skaars in België.[10]

Geografie

[wysig | wysig bron]

Die stad Brussel lê in die sentrum van België in die Brusselse Bekken tussen die Vlaamse Laagvlaktes en die Plato van Brabant teen 'n hoogte van tussen 15 en 100 meter bo seevlak. Die "sewe heuwels" waarop Brussel oorspronklik gebou is, is in die huidige stadsgebied, wat eerder as 'n golwende terrein beskou kan word, nouliks herkenbaar. Die bekendste heuwels is die Berg van die Kuns, Berg van die Justisie en Berg van die Barmhartigheid – hier het argitektoniese bakens ontstaan. Die golwende landskap en strate bied soms indrukwekkende uitsigte oor die stadsgebied.

Chalet Robinson is temidde van 'n klein meer in die Bois de la Cambre (Ter Kamerenbos) op Robinsoneiland (Île Robinson) geleë. Die restaurant en brasserie, wat slegs per boot bereik kan word, is ná twee verwoestende brande in 2009 in sy oorspronklike argitektoniese glorie herstel
Die historiese stadskern Pentagone ("Vyfhoek") en sy kwartiere

Ook die klein Zennerivier, wat die stad vanuit die suidweste in noordoostelike rigting deurvloei en vanaf die 11de eeu saam met sy takriviere en gragte as 'n belangrike waterweg gedien het, is in die 19de en 20ste eeu oorwelf en sodoende tot 'n onderaardse stroom omgeskep waarin Brussel se rou rioolwater beland het. Sommige van die kwartiere langs die Zenne het al in die 19de eeu bekend gestaan vir hul gebrek aan sanitasie en die gepaardgaande onhigiëniese toestande. 'n Doeltreffende water-rioleringstelsel en 'n nuwe watersuiweringsaanleg in Brussel-Noord, wat die Zenne se watergehalte sal verbeter, is eers teen die begin van die 21ste eeu geïnstalleer. Vanuit Anderlecht en die westelike stadsgrens met Molenbeek loop 'n seekanaal deur die stadsgebied wat Brussel met Charleroi en Antwerpen verbind.

In administratiewe opsig is Brussel eintlik net 'n stad in die Hoofstadgewes Brussel (Frans: Région de Bruxelles-Capitale, Nederlands: Brussels Hoofdstedelijk Gewest) met 'n oppervlakte van 32 vierkante kilometer, maar nogtans word meestal die tweetalige Hoofstadgewes met 'n oppervlakte van 161 kilometer en 'n hoë bevolkingsdigtheid bedoel wanneer 'n mens na "Brussel" verwys. Hierdie agglomerasie het 'n bevolking van meer as een miljoen en sy beboude gebied het lankal na die aangrensende Nederlandssprekende "randgemeentes" van die Vlaamse Gewes uitgebrei om 'n metropolitaanse gebied met 'n oppervlakte van 520 vierkante kilometer en 1,4 miljoen inwoners te vorm. Brussel maak daarnaas ook deel uit van 'n groter Belgiese metropolitaanse gebied (agglomération de Bruxelles) in die driehoek tussen Brussel, Gent en Antwerpen met 'n bevolking van 4,4 miljoen.

Die stad Brussel behels die historiese stadsentrum met Bo- en Benedestad, die noordelike stadsgebiede Haren, Laken, Neder-Over-Heembeek en die bosgebied Ter Kamerenbos. Die Hoofstadgewes is in 19 administratiewe eenhede verdeel wat oorspronklik selfstandige munisipaliteite was en nog steeds oor hul eie stadsrade, hospitale, polisiekommissarisse en ander munisipale instellings beskik.

Die nuwe rol van Brussel as hoofstad van die Koninkryk België en die vinnige industrialisering van die land het in die 19de eeu tot 'n grootskaalse migrasie van Wale en Franse na die voormalige voorstede van Brussel gelei. Die beboude gebiede het tot by die munisipale grense uitgebrei, en uiteindelik het die nedersettings rondom die historiese Brusselse stadskern (Pentagone of "Vyfhoek") tot 'n stedelike konglomeraat saamgesmelt. Behalwe vir 'n aantal dorpe en stede, wat volgens koninklike dekrete by die stad Brussel ingelyf is, het die voorstede hul selfregerende status steeds gehandhaaf.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Weergegewens vir Brussel (Ukkel)
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Hoogste maksimum (°C) 14,4 19,6 23,0 27,8 29,8 34,0 35,4 35,3 29,9 26,6 18,6 16,7 35,4
Gemiddelde maksimum (°C) 5,7 6,6 10,4 14,2 18,1 20,6 23,0 22,6 19,0 14,7 9,5 6,1 14,2
Gemiddelde temperatuur (°C) 3,3 3,7 6,8 9,8 13,6 16,2 18,4 18,0 14,9 11,1 6,8 3,9 10,5
Gemiddelde minimum (°C) 0,7 0,7 3,1 5,3 9,2 11,9 14,0 13,6 10,9 7,8 4,1 1,6 6,9
Laagste minimum (°C) –16,8 –12,0 –10,2 –4,7 –1,0 1,7 4,4 5,9 3,7 –2,0 –6,6 –12,3 –16,8
Neerslag (mm) 76,1 63,1 70,0 51,3 66,5 71,8 73,5 79,3 68,9 74,5 76,4 81,0 852,4
Sonskynure (u/d) 1,9 2,7 3,7 5,3 6,2 6,3 6,5 6,1 4,8 3,6 2,2 1,5 4,2
Reëndae (d) 19,2 16,3 17,8 15,0 16,2 15,0 14,3 14,5 15,7 16,6 18,8 19,3 198,7
Bron: KMI (1981–2010),[11] NOAA (1961–1990)[12]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vroeë en Middeleeuse geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die gotiese katedraal van Brussel

Die naam Brussel is 'n samestelling van die Oud-Nederlandse woord bruoc ("broek" of "moeras") en sella ("saal" (huis))

Volgens legende is Brussel in die 7de eeu deur die heilige Gérald, biskop van Cambrai, op 'n eiland in die Sennerivier gestig.

Die stad Bruocsella word vir die eerste keer in 'n dokument uit die jaar 966 genoem. In 977 het hertog Karel van Nederlotaringe 'n kapel en 'n burg op 'n eiland in die Senne laat oprig.

Sedert die 12de eeu is Brussel die woonplek van die Brabantse hertoë en 'n sentrum van die middeleeuse lakennywerheid. Die vesting van Brussel het as beskerming van die ou handelsroete tussen Brugge en Keulen gedien. Die stad is in die 12de eeu aansienlik vergroot en gedurende die 14de eeu is die verskillende stadswyke deur 'n gemeenskaplike stadsmuur verenig.

In die jaar 1383 is die hoofstad van die Hertogdom Leuven na Brussel verskuif. Alhoewel 'n groot aantal adellikes en amptenare van die hof hulle in die stad gevestig het, is Brussel nog steeds deur burgerlikes – die koopmansgildes – geregeer. Sedert 1421 het ook ambagsmanne lede van die stadsraad geword. Brussel het die hoogtepunt van sy ontwikkeling onder die heerskappy van die Hertoë van Boergondië beleef en het as die hoofstad van die Nederlande gefungeer. Die Groot Markplein (Grand-Place) met die statige Stadhuis en sy gildehuise het die trotse simbool van die plaaslike bestuur geword. Danksy die hof van die hertoë het Brussel ook tot 'n belangrike sentrum van die renaissance in die noordelike deel van Europa ontwikkel. Met sowat 45 000 inwoners teen 1455 was Brussel een van die grootste stede in Europa.

Tydens die 16de eeu was Brussel die sentrum van die Nederlandse opstand teen die Spaanse heerskappy. Op 10 Maart 1585 het Brussel gekapituleer en is deur Spaanse troepe onder bevel van Alessandro Farnese, hertog van Parma en stadhouer van die Nederlande, ingeneem. Brussel het nou as hoofstad van die Habsburgse Nederlande gefungeer.

Hoofstad van België

[wysig | wysig bron]
Rue des Bouchers ("Slagterstraat") – 'n mekka vir fynproewers

Die stigting van die onafhanklike Koninkryk België in 1831 is ondanks die sterk Nederlandse invloed op Vlaandere en die Franse invloed op Wallonië deur die meeste Belgiërs nie bevraagteken nie – die geskiedkundige ontwikkeling het 'n sterk samehorigheidsgevoel onder sy inwoners gekweek. Tot en met 1792 het Vlaandere en Wallonië deel uitgemaak van die Habsburgse Ryk en het daarna onder Franse bewind gekom. In 1815 jaar het die twee landsdele met die noordelike buurland Nederland tot die nuutgestigte Koninkryk Nederland saamgesmelt, waarby Den Haag en Brussel om die beurt as regeringsetel gedien het. Hierdie reëling het op 'n kompromis berus – met die ekonomiese opswaai in Vlaandere en veral Wallonië vanaf die Napoleontiese tydperk het die suidelike landsdele 'n sterk drang vir selfregering ontwikkel.

Op 25 Augustus 1830 het die suide se nasionale gevoelens tydens die opvoering van die rewolusionêre opera La Muette de Portici ("Die Stomme van Portici") skielik uitgebars en uitgemond in 'n ope rebellie wat die aanleiding tot België se vryheidsstryd gegee het.

Brussel het vervolgens as die hoofstad van die nuutgestigte Koninkryk België gefungeer – 'n land met 'n moderne en progressiewe grondwet, gelyke regte vir alle burgers, die reg op vryheid van mening en vergadering en skeiding van kerk en staat. Die Belgiese monarg het oorwegend representatiewe funksies uitgeoefen. Destyds het die stad se bevolking meer as 100 000 mense beloop. In 1835 het hier die eerste spoorweg op die Europese vasteland ontstaan, wat Brussel met die nabye Vlaamse stad Mechelen verbind het.

Danksy die nuwe rol as die hoofstad van 'n onafhanklike staat en die aansienlike groei van die Belgiese nywerhede het die Brusselse bevolking vinnig gegroei, onder meer as gevolg van immigrasie uit die Franstalige Wallonië en Frankryk. Die plattelandse dorpies van die omgewing het met die historiese stadskern van Brussel begin saamsmelt. In hierdie tydperk het die stad sy voormalige Vlaamse karakter vir goed verloor.

Vanweë sy ekonomiese betekenis as 'n eersterangse sentrum vir die vervaardiging van luukse goedere en sy aanloklike kulturele klimaat het Brussel ook steeds meer welvarende immigrante uit die buurlande van België gelok. Van die 195 000 inwoners in 1900 was sowat 10 000 Duitsers, meer as 5 000 Franse en 4 000 Nederlanders.[13]

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Brussel 'n nuwe funksie as 'n internasionale sentrum en hoofkwartier van belangrike Europese instellings vervul. Ook die wêreldtentoonstelling van 1958 het hier plaasgevind. Sedert 1967 is Brussel ook die hoofkwartier van die NAVO.

Die internasionalisering van Brussel

[wysig | wysig bron]
Die Belliard-straattonnel in die Europese Kwartier. Aan die regterkant is die Berlaymont-gebou, setel van die Europese Kommissie

Brussel het sy internasionale karakter aan vier historiese tydperke te danke. In 1550 het Maria van Hongarye, 'n heerseres van die huis Habsburg, die administrasie van die Spaanse Nederlande van Mechelen na Brussel verskuif. Koning Leopold II, wat tussen 1865 en 1909 geregeer het, het die neoklassisistiese boustyl van Parys vir sy geboue oorgeneem, onder meer die Triomfboog van die jare 1904–1905. Sy koloniale beleid in Afrika het tot die stigting van die kolonie Belgies-Kongo gelei, en vandag huisves die Belgiese hoofstad nog steeds 'n relatief groot gemeenskap van Kongolese burgers. Met die heropbou en die modernisering van die ekonomie het 'n groot aantal gasarbeiders uit Italië en later ook Arabiese lande (Marokko) hulle in Brussel gevestig.

Die ontwikkeling van Brussel tot een van die politieke sentrums van die Europese Unie het daarnaas tot die vestiging van duisende Europese amptenare in die stad gelei. Inheemse Brusselaars verwys na hulle – net soos na die diplomate en NAVO-militariste – as immigrés de luxe of "luukse-immigrante". Baie van hulle woon in die voorstede van Brussel waar hulle hul eie skole, kerke en klubs gestig het.

Vandag is meer as dertig persent van die totale bevolking van die Brusselse Hoofstadgewes immigrante (waaronder ook talle onwettiges), terwyl tien persent as kinders van migrante Belgiese burgerskap verwerf het. Na hulle word dikwels verwys as "Nuwe Belge".

Taalkundige situasie

[wysig | wysig bron]
Dagaansig van die Berlaymont-gebou
Die verfransing van Brussel duur steeds voort

Die oorspronklike tale van Brussel is die Brabantse dialekte van Nederlands. Eie aan Brussel was Marollien (Frans: "Die taal van die stadswyk Marollen"), 'n Brusselse dialek wat sterk deur die Waalse taal beïnvloed is. Marollien is oorspronklik in die Marollen (Frans: Marolles), 'n stadsbuurt in die historiese binnestad van Brussel, gepraat. Sowel Frans en Nederlands is in die geskiedenis van die stad as amptelike tale gebruik en deur die bolaag van die bevolking gepraat.

Met die vestiging van geletterdheid onder die bevolking word die dialekte geleidelik deur die standaardtale teruggedring. In die 19de eeuse België het Nederlands 'n swak reputasie gehad teenoor Frans wat destyds as die internasionale kultuurtaal beskou is en toe die amptelike taal van België was. Vandag word die Brusselse dialekte deur uitwissing bedreig, alhoewel daar pogings onderneem word om hulle te bewaar.

Tans is Brussel as die nasionale hoofstad van België amptelik tweetalig. Dit beteken nie noodwendig dat Brusselaars albei tale vlot kan praat nie of dat Nederlands in elke kroeg of restaurant maklik verstaan word. Net soos in Wallonië en Vlaandere het eentalige netwerke ontstaan met skole, kulturele instellings en ander geriewe waar uitsluitlik Frans of uitsluitlik Nederlands gebruik word.

Daar is geen amptelike statistieke aangaande die huistaal van die bevolking nie. Volgens 'n 2005-studie van Rudi Janssens, 'n sosiolinguis by die Nederlandstalige Vrije Universiteit van Brussel (VUB), is sowat 7 persent van die Brusselse bevolking Nederlandse moedertaalsprekers, terwyl 56,8% Franse moedertaalsprekers is. 'n Verdere 8,6 persent is afkomstig van tweetalige gesinne, waar beide Nederlands en Frans as huistale gepraat word (daar word wel opgemerk dat daar in hierdie tweetalige gesinne 'n tendens is om eerder Nederlands te gebruik). 11,3% van die bevolking is afkomstig van 'n tweetalige gesin wat deels Frans is en deel 'n taal anders as Nederlands is, terwyl 16,3% afkomstig is van gesinne waar nóg Nederlands, nóg Frans gebesig word.[14]

Die stadshorison van die moderne Brussel: kantoorgeboue in die Quartier Nord

Die groei van Brussel lei tot die vestiging van groot getalle Franstaliges in die Vlaamse voorstede van Brussel, waar hulle dikwels al die meerderheid vorm.

Die feit dat Brussel 'n hoofsaaklik Franssprekende metropool geword het en deur middel van die verfranste voorstede nou begin om 'n veral Franse taalgebied in voormalige Vlaamse dorpe te ontwikkel, wat administratief en territoriaal direk verbind sou kon word met Wallonië, skep 'n probleem vir die twee groot taalgemeenskappe van België.

Na die Tweede Wêreldoorlog was die status van die stad 'n twispunt van die Belgiese politiek. Brussel was sedert die jare 1932 tot 1938 amptelik tweetalig, terwyl die ses Vlaamse randgemeentes (voorstede net buite die Brusselse Hoofstadgewes) Drogenbos, Kraainem, Linkebeek, Sint-Genesius-Rode, Wemmel en Wezembeek-Oppem fasiliteite moet aanbied vir Franssprekende Brusselaars wat na hierdie voorstede verhuis het. Daar is nog steeds 'n geskil of hierdie instellings soos skole en biblioteke slegs 'n tydelike oplossing gaan wees of permanente status moet kry. Pogings van Franstaliges om hierdie randgemeentes by die agglomerasie van Brussel in te lyf en sodanig die taalgrens deur die geografiese verbinding met Wallonië vir goed af te baken, is deur die Vlaamse bevolking (60 persent van die Belgiese bevolking) gekeer.

Die status van die Franse taal, alhoewel gepaard met maatskaplike druk, het vanaf die 19de eeu tot so onlangs as 1960 verseker dat baie Vlaminge Nederlands as omgangstaal laat vaar het. Bedags stroom sowat 220 000 Vlaamse pendelaars na Brussel.

Ekonomiese basis

[wysig | wysig bron]

Historiese ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
Die Brusselse Effektebeurs

In die Middeleeue is Brussel se ekonomie deur die gildes van die verskillende ambagte oorheers, en naas die meer as veertig lewensgrote bronsstandbeelde op die Kleine Zavel (Place du Petit Sablon) wat hierdie gildes versinnebeeld, is daar nog 'n aantal straatname soos Rue des Bouchers ("Slagterstraat") wat aan die ambagsmanne se oorspronklike kwartiere herinner. Net soos Gent en Brugge het Brussel destyds as 'n sentrum van die lakenbedryf, die gobelinfabrieke, die timmermans, silwersmede en meubelmakers bekend gestaan.

'n Klein winkel in die Rue au Beurre ("Botterstraat")

Ná die onafhanklikheidsverklaring van België in 1830 het 'n aantal banke en nywerhede hulle hoofkwartiere in die stad gevestig en Brussel speel 'n belangrike rol by die industrialisering van die land. Die grootste ondernemings wat hier gestig is, is Solvay, 'n chemiese onderneming, en die Société générale de Belgique, 'n bank en eiendomsmaatskappy wat sowat 'n derde van die Belgiese ekonomie oorheers het en in 1989 deur die Franse maatskappy Suez oorgeneem is. Sy hoofkwartier lê in die Koningsstraat (rue Royale).

Huidige situasie

[wysig | wysig bron]

Intussen is die dienssektor die belangrikste bedryf in Brussel, naas die nasionale en internasionale administrasies en organisasies. Die dienssektor en die internasionale organisasies gee op hulle beurt die aanleiding tot die vestiging van besighede, wat aanvullende dienste lewer, soos onder meer hotelle en restourante.

Ten opsigte van die nywerheidsbedryf is die farmaseutiese en elektroniese nywerhede die belangrikste werkgewers en Brussel is nog steeds die tweede belangrikste nywerheidstad in België na die hawestad Antwerpen. Die Duitse motorvervaardiger Volkswagen het 'n aanleg in die voorstad Forest ("Vorst") opgerig, wat tans die grootste fabriek in Brussel is, alhoewel die Volkswagen Groep die plaaslike produksie as gevolg van hoë arbeidskoste sedert 2006 afgeskaal het. Brusselse kant en tapyte is gewilde tradisionele kunshandwerk.

Meer as 2 000 buitelandse ondernemings het hulle hoofkwartiere in Brussel, waarvan 1 400 maatskappye uit Noord-Amerika (wat van hier die Europese mark bedien) en sestig buitelandse banke. Brussel is tans die sewende grootste finansiële sentrum ter wêreld.[15] Daar is ook meer as 1 000 internasionale organisasies en verenigings wat hulle hoofkwartiere in Brussel het. Brussel tree jaarliks as gasheerstad vir meer as 1 000 sakekonferensies op.

Brussel as finansiële sentrum

[wysig | wysig bron]
'n Wolkekrabber in Brussel se finansiële distrik

In die laat 18de en vroeë 19de eeu was Brussel naas Londen, Parys en Amsterdam een van die jonger en kleiner finansiële sentra van Europa. So is 'n aantal buitelandse staatslenings in België uitgereik, veral deur die Weense regering, maar ook deur Swede en Rusland, en meestal was Brusselse banke by hierdie soort transaksies betrokke. Belgiese banke het daarnaas begin om in Franse staatsskuld te belê. Desondanks was Brussel destyds op nasionale vlak net 'n tweederangse handelsplek naas Antwerpen waar die belangrikste Belgiese effektebeurs gesetel was. Hier is hoofsaaklik buitelandse staatsobligasies verhandel waarby Oostenryk en Rusland – naas Denemarke, Swede en Engeland – 'n sentrale rol gespeel het, terwyl die Brusselse effektebeurs hom op die bates van openbare Belgiese instellings toegespits het.[16]

Eers vanaf die 1820's het Brussel se finansiële sektor voordeel getrek uit 'n reeks politieke besluite en ontwikkelinge. So is danksy die inisiatief van koning Willem I van Nederland en enkele Brusselse bankiers in 1822 die Société Générale gestig wat in die suide van die destydse Koninkryk van Nederland die funksies van reserwe- en leningsbank asook staatskas sou vervul. Met 'n kapitaal van 30 miljoen gulden kon dit reeds in die liga van groot Europese banke speel. 'n Beslissende gebeurtenis was België se onafhanklikwording in 1830 waardeur alle administratiewe instellings in die hoofstad Brussel saamgetrek is, terwyl Antwerpen sy leidende rol gaandeweg verloor het.

'n Tweede belangrike faktor was die vestiging van invloedryke privaat bankiers uit ander Europese lande, waaronder Joodse bankiers uit Duitsland. Die mees bekende van hierdie bankiers was Jonathan-Raphaël Bischoffsheim, 'n boorling van Frankfurt am Main, wie se naam veral met die geskiedenis van die Banque de Belgique verbind word wat in 1835 as belangrikste mededinger van die Société Générale gestig is, en, in die tweede helfte van die 19de eeu, met die Banque de Paris et des Pays-Bas. Toe Bischoffsheim hom in die laat 1830's in Brussel gevestig het, het hy en sy broer Louis reeds nou bande met finansiële kringe in die buiteland gehandhaaf wat hulle steeds verder uitgebou het. Kontakte het onder meer die magtige bankier-gesin Rothschild ingesluit. Steeds meer Duitse bankiers is na die Belgiese hoofstad gelok, waaronder die Protestantse bankier Friedrich Brugmann uit Dortmund, stigter van die bankhuis Engler, Brugmann et Cie.

Die Société Générale het gaandeweg tot 'n Brusselse instelling gegroei. Terwyl in die periode tussen 1825 en 1830 meer as die helfte van alle aandeelhouers in Brussel gesetel was, het hul aandeel in 1837 reeds meer as 90 persent beloop. Brussel se ontwikkeling tot die finansiële sentrum van België is verder bevorder deur die belangrike rol wat die Société Générale en die Banque de Belgique by die stigting van België se eerste groot nywerheidsmaatskappye gespeel het. Hul aandele is byna uitsluitlik in die hoofstad verhandel, terwyl Antwerpen se effektebeurs op nasionale vlak steeds meer aan belangrikheid verloor het.

Brussel se finansiële sektor het hom egter oorwegend tot die nasionale ekonomie beperk, en tussen 1830 en 1850 is Belgiese kapitaal merendeels in inheemse aandelemaatskappye belê. Buitelandse beleggers was egter aktief betrokke by België se ekonomiese ontwikkeling. In die eerste dekades ná België se onafhanklikwording het België se buitelandse skuldlas sterk gegroei. Die staat se kredietwaardigheid was aanvanklik nog relatief swak, terwyl kredietbehoeftes onder meer deur die uitbou van die Belgiese spoorwegnetwerk verhoog is. Anders as in Engeland, waar spoorweë hoofsaaklik danksy privaat inisiatiewe ontstaan het, het die Belgiese regering besluit om spoorweë as 'n nasionale projek te beskou en deur staatsfondse te bou en te onderhou. Die meeste Belgiese staatslenings is op finansiële handelsplekke in die buiteland aangegaan, hoofsaaklik in Parys en Londen.

Kuns en kultuur

[wysig | wysig bron]
Die koninklike paleis

Brussel se ryk verskeidenheid van kulturele instellings sluit talle Frans- en Nederlandstalige teaters, waaronder die eersterangse operateater Théatre de la Monnaie ("Muntskouburg"), en museums in.

Net soos Parys staan Brussel as een van die Europese hoofstede van die strokiesverhaal bekend. België is die tuisland van wêreldbekende tekenaars soos Hergé (eintlik Georges Remi, "Die avonture van Kuifie"), Morris (eintlik Maurice de Bevère, "Lucky Luke") en Peyo (eintlik Pierre Culliford, "Les Schtroumpfs", Afrikaans: die "Smurfe"). Daar is meer as 650 aktiewe tekenaars en Belgiese strokiesverhale het 'n wêreldwye oplaag van jaarliks 40 miljoen. Reusagtige beelde van gewilde strokiesverhaalfigure word dikwels gebruik om huismure te versier (tans is 32 huisfasades op hierdie manier verfraai) en kunstenaars word ook uitgenooi om kunswerke vir die Brusselse moltreinstasies te ontwerp.

Die Belgiese Strokiesverhaal-museum (Centre Belge de la Bande Dessinée) – naas die Centre National de la Bande Dessinée et de l'image in Angoulême, Frankryk een van die beduidendste instellings van sy soort in Europa[17] – verbind twee leidmotiewe van die stad se kunslewe: sy gebou is die voormalige afdelingswinkel Waucquez, wat deur Victor Horta in die Art Nouveau-styl ontwerp en in 1906 opgerig is. Die museum beskik oor 'n vloerspasie van meer as 4 000 vierkante meter. Die permanente tentoonstelling Espace Victor Horta op die grondverdieping gee veral met sy fotografieë 'n oorsig oor Horta se werk.

Die Strokiesverhaal-museum behandel in sy permanente tentoonstelling die chronologiese ontwikkeling van tekenprente, terwyl verskillende wisselende uitstallings aan klassieke tekenprent-werke en avantgarde-illustreerders gewy is. Die museum se vakbiblioteek met 40 000 werke word as die grootste ter wêreld beskou.[18]

Argitektuur

[wysig | wysig bron]

Stadhuis

[wysig | wysig bron]
Die Stadhuis van Brussel

Die Stadhuis of Hôtel de Ville van Brussel, wat tussen 1402 en 1455 as 'n simbool vir die rykdom van die stad in die Brabants-Gotiese styl opgerig en deur UNESCO in 1998 saam met die Groot Markplein as 'n wêrelderfenisgebied gelys is, is een van die argitektoniese pronkstukke op Brussel se sentrale plein. Sy toring met 'n hoogte van 96 meter, wat deur Jan van Ruusbroec ontwerp is, is met standbeelde van die aartsengel Michiel, die beskermheilige van Brussel, en die duiwel bekroon. Die toring word as een van die mooiste voorbeelde van die wêreldlike Gotiese boukuns beskou.

Die oosvleuel met die Leeuetrap dateer uit die vroeë 15de eeu en is sodoende die oudste deel van die huidige stadhuis. Die wesvleuel is tussen 1445 en 1450 bygevoeg, maar die destydse boumeesters het min aandag aan die skepping van 'n harmoniese en simmetriese struktuur geskenk. Die gebou is tydens die Franse bombardering van 1695 ernstig beskadig en vervolgens heropgebou. Die State van Brabant het die ou lakenhal aan die agterkant van die stadhuis tussen 1706 en 1711 deur 'n nuwe gebou laat vervang, en die hof wat hier ontstaan het, is met 'n allegoriese fontein versier wat die Maasrivier as bronfiguur uitgebeeld het.

Die kraagstene en kapitele van die wesvleuel is met beeldhouwerk versier wat 'n slapende Moor in sy harem en monnike tydens 'n drinkparty uitbeeld – 'n verwysing na twee historiese huise, De Moor en Papenkeldere, wat afgebreek is om plek te maak vir die nuwe vleuel. Ook die fasade besit beeldhouwerke en allegoriese figure van onder meer die beeldhouer Charles-August Fraikin (1817–1839), wat ook die monument ter ere van die grawe Egmont en Hoorn op die Petit Sablon geskep het. Ander figure sluit Sint Michiel, Sint Joris, Sint Sebastiaan en Sint Christoforus in die boogveld van die portaal in.

Ander bekende Belgiese beeldhouers verwys met die kunswerke wat hulle vir die stadhuis geskep het na bekende persoonlikhede uit die Brusselse kunslewe en geskiedenis. Georges Minne het byvoorbeeld 'n steenmonument ter ere van die argitek Jacques Francquart (1582–1651) geskep. Altesaam 137 portieke is met beeldhouwerke versier wat onder meer die skilder Bernard van Orley (1488–1542), die Busselse stadskilder Rogier van der Weyden ('n boorling van Doornik, omstreeks 1400–1464) en Maria van Hongarye uitbeeld.

Die room van die stadhuis se kosbare kunsskatte sluit wandtapyte in wat tussen die 16de en 19de eeu ontstaan het en tonele uit die lewe van Clovis I en die Brusselse gildes uitbeeld.

Justisiepaleis

[wysig | wysig bron]
Die Justisiepaleis

Die reusagtige Justisiepaleis (Palais de Justice) toring met sy goudversierde koepel met 'n hoogte van 142 meter oor die Bostad van Brussel. Die heuwel waarop die paleis tussen 1866 en 1883 in die eklektiese boustyl opgerig is, het tot in die 16de eeu as galgberg gedien.

Die Justisiepaleis is met 'n lengte van 160 meter en 'n wydte van 150 meter een van die grootste geboue wat gedurende die 19de eeu opgerig en was by sy voltooiing selfs die grootste ter wêreld – sy grondvloer oortref met 'n oppervlakte van 26 000 vierkante meter nog die Sint-Pieterskatedraal in Rome (22 000 vierkante meter).

Die monumentale paleis weerspieël in baie opsigte die politieke en maatskaplike klimaat van die destydse België. Die boukoste het uiteindelik 45 miljoen Belgiese frank beloop. Die ontwerp van die argitek Joseph Poelaert (wat nog voor die voltooiing van sy meesterwerk in 1879 oorlede is) berus oorwegend op antieke Grieks-Romeinse stylelemente. Die Justisiepaleis behels agt howe, 27 geregsale en 245 kleiner kamers. Die gebou huisves tans die Hof van Cassatie.

Art nouveau-boukuns

[wysig | wysig bron]
Die strokiesverhaal-museum

Die afdelingswinkel Waucquez is een van talle geboue uit die bloeitydperk van die Brusselse Art Nouveau-styl tussen 1893 en 1905. Die historiese stadskern bied voorbeelde van Vlaamse burgerhuise wat met 'n aantal art nouveau-geboue verryk is. Victor Horta, die pionier van die art nouveau-boustyl in Brussel, speel net soos sy kollega Paul Hankar 'n leidende rol in die argitektoniese geskiedenis van die stad.

Die plaaslike art nouveau-styl was aanvanklik veral deur arabeske gekenmerk, maar het omtrent 1900 toenemend onder die invloed van die Weense Secession-styl gekom en hom meer op geometriese vorms toegespits.

Die Stoclet-paleis in die Tervurenlaan, wat deur die Weense argitek Josef Hoffmann ontwerp is, word as sy meesterwerk en een van die verfynde en luukse privaathuise van die 20ste eeu beskou.[19] Voorstede soos Schaerbeek, Sint-Gillis / Saint-Gilles, Ixelles en Etterbeek, wat in die bloeitydperk van die art nouveau-styl ontstaan het, vorm 'n kontras teen die moderne stadswyke van Quartier Léopold en Espace Nord.

Die Cauchie-huis, wat in 1905 deur Paul Cauchie opgerig is, word by die mees invloedryke voorbeelde van die Brusselse art nouveau-boustyl gereken en gee 'n goeie indruk van die destydse versmelting van argitektuur en muurskildery. Die huis se fasade is met sgraffiti versier.

Honderde huise besit daarnaas fasades waarin art nouveau-stylelemente ingewerk is.

Mont des Arts

[wysig | wysig bron]
Die Mont des Arts of "Kunsberg"

Die Mont des Arts of Kunsberg is 'n heuwel en historiese buurt in die middestad wat ter geleentheid van die Brusselse wêreldtentoonstelling van 1910 ontstaan het. Die heuwel, wat oorspronklik as Koudenberg bekend gestaan het, is tussen die Koningsplein en die stadsentrum met die Groot Markplein geleë.

Die historiese buurt is oorspronklik Sint-Rochuswyk of – tot in die 15de eeu – ook "Jodewyk" genoem. Kort ná die eeuwisseling in 1900 is die afgegradeerde middeleeuse binnestadgebied as deel van 'n stadsvernuwingsprojek heeltemal gesloop en het daarna agt jaar lank onbewoon gebly. Eers met die oog op die wêreldtenstoonstelling, wat in 1910 in die Belgiese hoofstad gehou sou word, het koning Léopold II in 1908 aan die Paryse argitek Vacherot die opdrag gegee om die buurt te herontwikkel.

Vacherot se ontwerp het voorsiening gemaak vir 'n stadspark en 'n monumentale trapgang met fonteine, klein watervalle en beeldhouwerke. Die nuwe Kunsberg is in 1910 een jaar ná die afsterwe van Léopold II deur sy opvolger, koning Albert I, plegtig ingewy.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die nuwe park die slagoffer van nóg 'n stadsvernuwingsprojek geword. Die park moes met sy plein en sy omgewing plek maak vir ondergrondse parkeerruimtes en massiewe moderne geboue soos die Koninklike Biblioteek van België en die Kongrespaleis wat almal in 'n postmoderne styl ontwerp is. Die nuwe Square Meeting Centre is in September 2009 geopen.

Die Kunsberg bied een van die beste uitsigte oor die Belgiese metropool wat op 'n sonnige dag tot by die Koekelberg-basiliek en die Atomium kan strek. 'n Aantal bekende Brusselse besienswaardighede soos die Musiekinstrumente-museum, die Koninklike Museum van Skone Kunste, die Koninklike Paleis en die katedraal is binne stapafstand van die Kunsberg geleë.

Quartier Léopold en Quartier Nord (Espace Nord)

[wysig | wysig bron]

Die Quartier Léopold (Nederlands: Leopoldswijk) is die grootste en beduidendste besigheidsdistrik van Brussel wat in 1837 geskep en na koning Leopold I vernoem is. Die kwartier, wat oor dele van die Stad Brussel asook die voorstede Etterbeek, Elsene (Frans: Ixelles) en Sint-Joost-ten-Node strek, was vroeër een van Brussel se gegoede woonbuurte en ook een van die eerste stadsdistrikte wat buite die historiese stadsmuur ontstaan het. Dit is tans die finansiële sentrum van Brussel en huisves daarnaas ook die meeste instellings van die Europese Unie in die Brusselse Hoofstedelike Gewes, waaronder die gebou van die Europese Parlement (Leopoldsplein of Espace Léopold). Die huidige treinstasie Gare de Bruxelles-Luxembourg (vroeër Gare du Quartier Léopold) is digby die Europese parlementsgebou geleë.

Brussel se tweede grootste besigheidsdistrik, die Noorderwijk, Quartier Nord of Espace Nord, is in 'n vallei in die noorde van die middestad geleë en word deur 'n groot konsentrasie wolkekrabbers gekenmerk – alhoewel hulle vanweë die plaaslike topografie nie die Brusselse stadshorison oorheers nie. Bedags stroom baie Vlaamse pendelaars na die Noorderwijk om te werk.

Die distrik, wat oor dele van die Stad Brussel, Sint-Joost-ten-Node en Schaarbeek strek, het vanweë sy besigheidskarakter slegs 'n relatief klein residensiële bevolking van sowat 8 000, maar bied met sy totale kantooroppervlak van sowat 1,2 miljoen m2 werkgeleenthede vir 40 000 mense.

Die kwartier het sy ontstaan aan 'n omstrede grootskaalse bouprojek te danke waartydens 'n historiese woonbuurt gesloop is om plek te maak vir sakegeboue. Omstreeks 15 000 inwoners is uit hulle woonkwartiere verdryf, maar as gevolg van 'n ekonomiese insinking is talle bouprojekte vertraag het dikwels net kaal grond bly staan. Van die beplande geboue is eers jare later, ná 'n ekonomiese opswaai, opgerig.

Die Europese Kwartier
'n Panoramabeeld van die Quartier Nord

Besienswaardighede

[wysig | wysig bron]
Die Atomium
Die Groot Markplein
Manneken Pis...
...het 'n vroulike eweknie, Jeanneke Pis
Besoekers mag plaaslik gebroude Lambic-bier in die Brusselse Cantillon-brouery proe
Die winkellaan Galeries royales Saint-Hubert
  • Die Forêt de Soignes ("Zoniënwoud") is 'n beukeboomwoud wat sowat 4 300 hektaar grond dek. Die woud, wat nou nog 'n derde van sy oorspronklike oppervlakte van die jaar 1830 beslaan, word onder die mooiste bosgebiede van die land gereken. Die reusagtige bome word soms met die pilare van 'n katedraal vergelyk.
  • Die Groot Markplein van Brussel (Grand-Place) behoort tot die mooiste markpleine ter wêreld. Dit is reeds in die 13de eeu die middelpunt van die Brusselse handel en 48 gildes het destyds hulle hoofkwartier in die stad gehad. Die oorspronklike plein is in 1695 onder Franse geskut verniel, net die stadhuis is gespaar. Met die heropbou ontstaan 'n harmoniese groep van geboue in die Vlaamse barok-styl met sy kenmerkende goue en ryk versierde voorgewels.
  • Die Broodhuis (Maison du Roi) dateer uit die jare 1515 tot 1525 (heropgerig in die tydperk tussen 1860 en 1885) en dien vandag as 'n stedelike museum. Historiese dokumente oor die geskiedenis van die stad Brussel, kantwerk, tapyte, porselein en 'n groot versameling kostuums en uniforms van Manneken Pis kan hier bewonder word.
  • Die Gotiese katedraal St-Michel (vroeër Ste-Gudule) is tussen die 13de en 15de eeu opgerig en aan die aartsengel Michiel, die beskermheer van Brussel, en aan die heilige Gudula gewy. Sy glasvensters dateer uit die 16de eeu. Sedert 1962 is dit die setel van die aartsbiskop van Mechelen-Brussel.
  • Die fontein met die bekende Manneken Pis staan sowat honderd meter agter die stadhuis in die Stoofstraat (Frans: Rue de l'Étuve) en simboliseer die eiesinnige karakter van die Brusselaars. Die bronsfiguur is in 1619 deur Jérôme Duquesnoy gegiet.
  • Die elegante Koningsplein (Place Royale) is tussen 1774 en 1780 in die styl van Louis XVI (Lodewyk XVI) opgerig.
  • Die Museum vir Ou Kuns (Musée d'Art ancien) toon skilderye van onder meer Brueghel en Rubens.
  • Die Parc du Cinquantenaire lê sowat 2 500 meter oos van die stadsentrum en beslaan 'n oppervlak van 38 hektaar. Die park word in 1880 ter viering van België se vyftigste verjaardag opgerig en huisves onder meer een van die grootste Europese museumkomplekse. Die Koninklike Museum vir Kuns en Geskiedenis in die Palais du Cinquantenaire (Vijftigjarige Jubileumspaleis) toon kunswerke en antikwiteite; hier in die oostelike deel van Brussel is ook die meeste administratiewe geboue van die Europese Unie te vinde.
  • Die Brusselse Atomium in die voorstad Laken (Laeken), simbool van die wêreldtentoonstelling van 1958, vorm met sy nege bolle 'n 165-biljoen-keer vergroting van 'n ystermolekuul. Die gebou van 102 meter hoogte met 'n gewig van 2 400 ton is deur die argitek André Waterkeyn aan die wetenskaplike vooruitgang gewy. Die Atomium het naastenby vyftig jaar na sy opening uitgebreide herstelwerk en opknapping ondergaan. Die aluminium van die ystermolekuul en die struktuur is deur vlekvrye staal vervang. Teen die einde van die jaar 2005 is die Atomium heropen.
  • Die Sint Hubertus-galerye (Galeries Saint-Hubert) is die eerste oordekte winkellaan in Europa en is tussen 1846 en 1847 opgerig.

Vervoer

[wysig | wysig bron]

Brussel beskik oor 'n aantal groot spoorwegstasies (Brussel-Noord, Brussel-Sentraal en Brussel-Suid), wat deur 'n tonnellyn met mekaar verbind word. Die belangrikste stasie vir treine uit die buiteland is Brussel-Suid (Bruxelles Midi), wat verbindings na Parys, Amsterdam, Keulen en Londen bied. Die hoëspoedtrein Thalys verbind die Brusselse hoofstad met Parys, Keulen en Amsterdam, terwyl die Eurostar Londen as bestemming het.

Feeste

[wysig | wysig bron]

Die historiese skouspel Ommegang vind op die eerste Donderdag van Julie op die Groot Markplein plaas. Die tradisionele Meyboom word jaarliks op 9 Augustus geplant.

Kookkuns

[wysig | wysig bron]
Belgiese sjokolade
Brusselse wafel

Brussel word as een van die gastronomiese hoofstede van die wêreld beskou. Die Groot Markplein is die tuiste van die chocolatiers en ander winkels wat die gesogte soet kosse verkoop. Die Îlot sacré noordoos van die Groot Markplein is 'n ou buurt met talle restourante. Tipiese spesialiteite is mossels en tjips (moules-frites), Brusselse sigorei (chicorée) en Brusselse spruitjies (chou de Bruxelles).

Gewilde Brusselse lekkernye is die bekende wafels (gaufres), wat ook as 'n warm nagereg met of sonder stroop geniet word, en sjokolade. Die apteker Jean Neuhaus, 'n immigrant uit die Switserse stad Neuchâtel, het in 1857 in die Galerie de la Reine 'n winkel geopen waar hy bitter pille met 'n oortreksel van suiker verkoop het. Sy seun Frédéric het begin om ingevoerde kakaobone uit Afrika te gebruik en omtrent 1900 die eerste pralines aangebied wat van sjokolade gemaak is.

Alhoewel die Amerikaners hulle French fries noem, is die bekende aartappeltjips (Frans: frites, Nederlands: frieten) 'n egte Belgiese uitvinding. Sover bekend, is die Belgiese tjip reeds in die jaar 1781 in die stad Luik (Liège) as 'n tipiese wintermaaltyd geniet – die klein stafies het toe die visse vervang wat weens die dik yslae op die mere en riviere nie meer gehengel kon word nie. In 'n tyd, wanneer aartappels in Frankryk nog feitlik onbekend was, is hulle in die noordelike buurland danksy die Belgiese vernuf ook buite die kulinêre sfeer gebruik: tydens die Brabantse Rewolusie van 1789 is die Oostenrykse troepe met aartappels bestook.

Die huidige vreedsame gebruik van hierdie Belgiese stapelvoedsel vereis dat hulle eers tien minute lank teen 120°C in diepolie geblansjeer word, 'n tyd lank mag afkoel en daarna nog eens 'n kort rukkie teen 180°C gebak word, wat hulle besonder bros maak en aan hulle die tipiese goue kleur verleen.

Bierkultuur

[wysig | wysig bron]

Bier, Brussel en België is vir kenners onlosmaaklik met mekaar verbonde. Die belanrike rol, wat bierbrouerye in die stadsgeskiedenis gespeel het, word weerspieël in die prominente plek wat die Brouergildehuis op die Groot Markplein inneem. Bierbroutradisies strek terug tot in die Middeleeue toe brouerye in abdye gevestig is. Unesco het aan Belgiese bierbroutradisies in 2016 die status van immateriële kultuurerfenis van die mensheid toegeken.[20] Vandag is daar sowat 200 brouerye in België, en bierliefhebbers kan uit 2 500 verskillende biersoorte kies.

Van die soorte, wat inheems aan Brussel is, is Kriek-Lambic en Gueuze. As basis vir die suur Gueuze-bier dien Lambic (Nederlands: Lambiek), 'n bier wat van koring, gemoute gars, hop en water gebrou word en in ou houtvate sonder gis fermenteer. Gis word op natuurlike manier uit die lug van die omgewing "ingevang" deur die mengsel in oop houers te stoor – 'n metode waarna as spontane vergissing verwys word. Spontane vergissing was tradisioneel die standaardmetode vir brouereye voordat in die moderne tyd mikrobiologiese prosesse deur wetenskaplikes sistematies ondersoek is. Lambic is tans een van min biersoorte waarop die historiese voorwetenskaplike metode nog toegepas word. Dikwels word verskillende soorte Lambic gemeng om die skuimende Gueuze te verkry – 'n bier met 'n sterk geur van appelwyn. Belgiërs geniet hulle Lambic ook met kerssap ("kriek") en ander vrugtesappe.

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (fr) SPF Intérieur: Chiffres de la population par province et par commune, à la date du 1er janvier 2017. Besoek op 5 Augustus 2017
  2. (en) "Business tourism: Brussels is Europe's number 1 city for congresses". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Maart 2012. Besoek op 13 November 2011.
  3. (nl) Geert van Istendael. Arm Brussel. Atlas. ISBN 90-450-0853-X.
  4. (nl) "Zo ontstond Brussel". Vlaamse Gemeenschapscommissie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Julie 2011. Besoek op 6 Julie 2011.
  5. (fr) Jean Baptiste D'Hane; François Huet; P.A. Lenz; H.G. Moke (1837). Nouvelles archives historiques, philosophiques, et littéraires. Vol. 1. Gent: C. Annoot- Braeckman. p. 405. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2021. Besoek op 19 Augustus 2021.
  6. (fr) Tribot, Pierre-Jean; Defawe, Paul (2006). Evere. Brussels: CFC Éditions. p. 3. ISBN 978-2-930018-62-1. OCLC 800180427.
  7. (fr) Jeanine Treffers-Daller (1994). Mixing Two Languages: French-Dutch Contact in a Comparative Perspective. Berlyn: Mouton de Gruyter. p. 25. ISBN 978-3-11-013837-5. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2023. Besoek op 2 Februarie 2023.
  8. (en) Mary Anne Evans (2008). Frommer's Brussels and Bruges Day by Day. First Edition. Hoboken: John Wiley & Sons. p. 71.
  9. (fr) Jean d'Osta. Dictionnaire historique des faubourgs de Bruxelles. Le Livre. ISBN 978-2-930135-10-6..
  10. (fr) Alain Lerond (1980). Dictionnaire de la prononciation. Larousse. p. 477.
  11. (nl) De maandnormalen te Ukkel Geargiveer 3 Julie 2015 op Wayback Machine
  12. (fr) "Brussels/d'Uccle Climate Normals 1961–1990". National Oceanic and Atmospheric Administration. Besoek op 8 April 2014.
  13. (de) Klaus-Jürgen Sembach: Jugendstil. Die Utopie der Versöhnung. Keulen: Taschen 2007, bl. 41
  14. (nl) Taalgebruik in Brussel en de plaats van het Nederlands. Enkele recente bevindingen, Rudi Janssens, Brussels Studies, Nummer 13, 7 Januarie 2008.
  15. (de) "Städteverbindungen/Brüssel-Hauptstadtregion". Berlyn. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Junie 2009. Besoek op 5 Julie 2009.
  16. (de) Youssef Cassis: Metropolen des Kapitals. Die Geschichte der internationalen Finanzzentren 1780–2005. Hamburg: Murmann 2007, bl. 62
  17. (de) Marcel Feige: Das kleine Comic-Lexikon. Berlyn: Schwarzkopf & Schwarzkopf 2005, bl. 148
  18. (de) Ferdinand Ranft (red.): Brüssel. Ostfildern: Mairdumont 2005, bl. 38
  19. (en) Watkin, David (2005). A History of Western Architecture. London: Laurence King Publishing. p. 548. ISBN 1-85669-459-3.
  20. (en) The Guardian, 30 November 2016: Cheers as Belgian beer is added to Unesco cultural heritage list. Besoek op 3 September 2019
  21. 21,00 21,01 21,02 21,03 21,04 21,05 21,06 21,07 21,08 21,09 21,10 21,11 (en) "Brussels". Brussel. Besoek op 17 Mei 2024.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]