Gaan na inhoud

Parys

Koördinate: 48°51′N 2°21′O / 48.850°N 2.350°O / 48.850; 2.350
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hierdie artikel handel oor Parys in Frankryk. Vir die dorp in die Vrystaat, sien Parys, Vrystaat.

Parys
Paris

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Frankryk Frankryk
 Région (Admin. gewes) Île-de-France
 Département Parys
 Arrondissement Paris -
onderverdeel in
20 arrondissements
municipaux
 Koördinate 48°51′N 2°21′O / 48.850°N 2.350°O / 48.850; 2.350
 Stigting 3de eeu v.C.
 Oppervlakte:  
 - Admin. stadsgebied 105,4 vk km
 - Métropole du Grand Paris 814 vk km
 Hoogte bo seevlak 28–131 m
 Bevolking:  
 - Stadsgebied (1 Januarie 2019) 2 140 526[1]
 - Métropole du Grand Paris (2016) 7 026 945
 - Bevolkingsdigtheid 20 309/vk km (stad)
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematig-oseanies
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 10,6 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 3,4 / 18,4 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 639 mm
 Burgemeester (2020–2026) Anne Hidalgo (PS)
 Amptelike Webwerf paris.fr

Parys (Frans: Paris [paˈʀi] ) is die hoofstad en grootste stad van Frankryk met 'n bevolking van 2,14 miljoen en 'n oppervlakte van 105,4 km². Saam met sy voorstede vorm Parys 'n metropolitaanse gebied met sowat 12,6 miljoen inwoners. Administratief is Parys tegelykertyd 'n stad en 'n département.

Parys se stadsentrum met die Eiffeltoring, École militaire, Champ-de-Mars, die Palais de Chaillot en La Défense in die agtergrond
Uitsig oor Parys in 'n noordelike rigting vanaf die tuin van die Tuileries
Palais du Louvre met pirateen sononder
Argitektoniese kontraste – die historiese middestad en La Défense

Parys is – ná Brussel – die stad waar die meeste hoofkantore van internasionale organisasies gesetel is, soos Unesco, OESO, die Internasionale Handelskamer (ICC/CCI), die Internasionale Energie-agentskap (IEA), die Europese afdeling van Interpol en die Europese Ruimtevaartorganisasie (ESA). Dit is verreweg die grootste Franssprekende metropool ter wêreld en die kulturele spilpunt vir die internasionale gemeenskap van Franssprekendes (die sogenaamde Frankofonie).

Parys, sy voorstede (La Petite Couronne – "Klein Randgebied") en die omgewing (La Grande Couronne – "Groot Randgebied") word L'Île-de-France genoem – dit is die historiese hartland van Frankryk en sy geestelike middelpunt. Die Seineoewer is in 1991 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.

Daar is geen ander stad wat dieselfde bevoorregte stelling in sy eie land en op sy kontinent inneem soos Parys nie – dit is tradisioneel die stad van die avant-garde asook die stad wat aan die voorpunt van belangrike ontwikkelings staan. Parys het oorheersende invloed in Frankryk wat mode, kuns, politiek, argitektuur, filosofie, musiek en filmkuns betref en laat hierdie invloed ook elders in Europa en die wêreld geld.

Die metropolitaanse gebied van Parys is een van die belangrikste finansiële en sakespilpunte van Europa waar sowat veertig persent van alle Franse maatskappye hul hoofkwartiere het. Die bruto nasionale produk van hierdie gebied is groter as dié van Australië. Die voorstad La Défense in die département Hauts-de-Seine huisves die grootste sentrale besigheidsgebied van Europa en op een na ook die grootste Europese aandelebeurs. Parys het as gasheerstad van die Olimpiese Somerspele van 1900 en 1924 opgetree en sal naas Londen in 2024 die tweede stad wees wat vir 'n derde keer as gasheerstad vir Olimpiese Somerspele optree.[2]

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die oppidum oppidum op die gebied van die huidige stad Parys is in die middel-1ste eeu v.C. deur Julius Caesar genoem as Luteciam Parisiorum ("Lutetia van die Parisii") en na dié stad is in die vyfde eeu n.C. verwys as Parision en toe as Paris in 1265.[3][4] Gedurende die Romeinse tydperk was die stad algemeen bekend in Latyn as Lutetia of Lutecia en in Grieks as Leukotekía, wat albei moontlik ontleen is aan óf die Keltiese wortel *lukot- ("muis") óf aan *luto- ("moeras", vleiland").[5][6][4]

Die naam "Parys" is afgelei van sy vroeë inwoners, die Parisii, 'n Galliese stam uit die Ystertydperk en die Romeinse tydperk.[7] Die betekenis van die Galliese etnoniem bly egter omstrede. Volgens Xavier Delamarre is dit moontlik ontleen aan die Keltiese wortel pario- ("ketel).[8] Alfred Holder interpreteer die naam as "die vervaardigers" of "die bevelvoerders", deur om dit te vergelyk met die Walliese peryff ("heer", "bevelvoerder"), albei stam moontlik af van 'n Proto-Keltiese vorm wat gerekonstrueer word as *kwar-is-io-.[9] Alternatiewelik stel Pierre-Yves Lambert voor om Parisii te vertaal as "spiesmense" en verbind die eerste deel aan die Oudierse woord carr ("spies"), ontleen aan die vroeë vorm *kwar-sā.[4] Die stadsnaam hou in elk geval nie verband met Paris in die Griekse mitologie.

Geografie

[wysig | wysig bron]
Nasa-Satellietbeeld van Parys se metropolitaanse gebied
Die middestad en die sakedistrik La Défense (in die agtergrond), soos gesien vanuit die Eiffeltoring
Die kabelkar van Montmartre

Die kernstad – amptelik Ville de Paris – vorm administratief 'n selfstandige département met 'n oppervlakte van 105,4 vierkante kilometer en 'n bevolking van 2,2 miljoen wat van Parys die mees digbevolkte hoofstad in Europa maak. Dit word administratief onderverdeel in twintig arrondissements (stadsdistrikte) en tagtig quartiers (stadsbuurte).

Uitgestrekte voorstede – in Frans banlieues genoem – omring die kernstad in twee konsentriese ringe. Die binnekring daarvan word gevorm deur die drie départements Hauts-de-Seine, Val-de-Marne en Seine-Saint-Denis. Die buitekring, waarin die vier départements Seine-et-Marne, Essonne, Val-d'Oise en Yvelines geleë is, het nog 'n relatief sterk landelike karakter.

Die bogenoemde agt départements met 'n totale oppervlakte van 14 518 vierkante kilometer en 'n bevolking van twaalf miljoen vorm saam die administratiewe gewes Île-de-France – die derde grootste metropolitaanse gebied in Europa en die welvarendste streek in Frankryk.

Parys en sy voorstede is op 'n gemiddelde hoogte van 65 meter bo seevlak in die sentrum van die Paryse Bekken, 'n vrugbare landboustreek, geleë. Die stadsgebied word deur twee groot bosgebiede omring wat as ontspanningsgebiede vir die stedelike bevolking dien. Die hoogste van sewe heuwels binne die stadsgrense is Butte Montmartre (130 meter). 'n Kabelkar, die Funiculaire de Montmartre, neem besoekers na die bergpiek. Teen die hange van die Montmartre is die enigste wingerd in die Franse hoofstad aangelê.

Die Paryse meridiaan, wat in 1718 deur die Franse sterrekundige en geodeet Jacques Cassini (1677–1756) vasgelê en in 1806 deur die natuurkundige en menseregte-aktivis François Arago (1786–1853) noukeurig bereken is, het tot en met 1884, toe die Internasionale Meridiaan-konferensie in Washington, D.C. gehou is, een van baie nulmeridiane gevorm. Dit loop regdeur die Paryse sterrewag en word sowel deur 'n aantal suile asook deur die Arago-bronsmedaljonne aangedui wat in 1995 deur die Nederlandse konsepkunstenaar Jan Dibbets op 'n diskrete manier in die straatplaveisel, sypaadjies, binnehowe en verskeie geboue (waaronder die Louvre-museum) versink is. Die medaljonne is 'n eerbetuiging vir hierdie bekende Franse natuurkundige en menseregte-aktivis. Van die oorspronklik 135 plakette, wat aanvanklik min belangstelling gewek het, is ná die vrystelling van The Da Vinci Code, die Amerikaanse skrywer Dan Brown se blitsverkoper-riller, gesteel. Die skrywer se verwysing na 'n sogenaamde "Roselyn" in verband met die medaljonne is suiwer fiktief.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Parys teen sononder
Montmartre en Sacré-Cœur word verlig in die laaste sonstrale

Parys het 'n gematigde oseaniese klimaat wat deur die Noord-Atlantiese Stroom beïnvloed word. Daar is dus gewoonlik geen ekstreme weerstoestande wat met buitengewoon hoë of lae temperature gepaardgaan nie. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 10,9 °C. Die gemiddelde jaarlikse hoogste temperatuur is sowat 15 °C, die gemiddelde laagste jaarlikse temperatuur sowat 7 °C.

Die hoogste temperatuur wat nog aangeteken is, was 40,4 °C op 28 Julie 1948, en die laagste –23,9 °C op 10 Desember 1879. In die laaste jare is die gebied van Parys met die Europese hittegolf van 2003 en die baie koue winter van 2006 deur twee ekstreme weerverskynsels getref.

Reënval kom dwarsdeur die jaar voor, en Parys is bekend vir sy skielike reënbuie. Die gemiddelde jaarlikse neerslae is 641,6 millimeter. Sneeuvalle word in Parys nouliks aangeteken; gewoonlik is dit 'n baie kortstondige dun sneeulaag wat in Januarie en Februarie kan voorkom.

Weergegewens vir Parys (Parc Montsouris), 1981–2010
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Hoogste maksimum (°C) 16,1 21,4 25,7 30,2 34,8 37,6 40,4 39,5 36,2 28,4 21 17,1 40,4
Gemiddelde maksimum (°C) 7,2 8,3 12,2 15,6 19,6 22,7 25,2 25,0 21,1 16,3 10,8 7,5 16,0
Gemiddelde temperatuur (°C) 5,0 5,6 8,8 11,5 15,3 18,3 20,6 20,4 16,9 13,0 8,3 5,5 12,5
Gemiddelde minimum (°C) 2,7 2,8 5,3 7,3 10,9 13,8 15,8 15,7 12,7 9,6 5,8 3,4 8,5
Laagste minimum (°C) −14,6 −14,7 −9,1 −3,5 −0,1 3,1 6 6,3 1,8 −3,1 −14 −23,9 −23,9
Neerslag (mm) 53,7 43,7 48,5 53 65 64,6 63,1 43 54,7 59,7 51,9 58,7 649,6
Bron: Météo-France,[10] Infoclimat.fr[11]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Antieke tydperk

[wysig | wysig bron]
Goue muntstukke wat deur die Keltiese Parisii in die tydperk tussen 100 en 50 v.C. geslaan is
'n Skaalmodel van die Romeinse Lutetia
Die Romeinse forum van Lutetia

Die vroegste Keltiese nedersettings het verrys op twee klein eilande in die rivier Seine, wat deur die stad vloei. In daardie tyd het die nedersetting bekend gestaan as Louk-teih (Plek van die Moeras) of Lutu-hezi (Waterwoning). Hoewel dit net uit 'n klompie houthutte bestaan het, was dit 'n plek van strategiese belang.

Gaius Julius Caesar, wat Gallië in die 1ste eeu v.C. verower en onder Romeinse bewind gebring het, was die eerste wat na die oppidum of Keltiese nedersetting as Lutetia verwys het. Ander antieke bronne gee die naam as Lucotecia. In elk geval is die nedersetting met die plaaslike Galliese stam verbind wat in Latyns Parisii genoem is – as Lutetia Parisiorum. Topografies is die nedersetting, meer nog as vandag, deur die Seinerivier oorheers. Die rivierbedding, wat in die stadsgebied vandag 'n maksimum breedte van tweehonderd meter bereik, was in die Kelties-Romeinse tydperk op plekke moontlik 'n halwe kilometer breed. Aangesien winters indertyd redelik koud was, was die Seine gedurende die koudste maande met 'n yslaag bedek wat die bou van brûe bemoeilik het. Die ys kon geweldige druk daarteen uitoefen en die brûe meesleur. Daarnaas kon voedselvoorrade gedurende lang koue periodes opgebruik wees sodat bewoners deur hongersnode geteister is.

Die antieke Seine was ook minder diep, met uitgestrekte moerasse aan weerskante. Aan die linkeroewer het 'n syrivier, die Bièvre, in die Seine uitgemond (waarskynlik naby die huidige Austerlitz-stasie). Die laagliggende grond langs die regteroewer is deur oorstromings bedreig. Dieselfde geld vir die antieke Île de la Cité, die eiland waarop die Parisii hul nedersetting gebou het, wat sowat ses meter laer as vandag geleë was. Dié eiland was betreklik kleiner as vandag – sewe of agt hektaar in vergelyking met die huidige sewentien – en slegs die grootste en belangrikste temidde 'n hele eilandgroep. Drie kleiner eilandjies was aan sy westelike kant geleë, vier aan sy oostelike kant. Hulle het eers in latere eeue met die oewerland of die Île versmelt; in die antieke tyd het die topografie navigasie op die rivier bemoeilik en beperk tot skepe met weinig diepgang.

As Romeinse veldheer het Julius Caesar nie soseer belang in Lutetia se strategiese waarde of topografiese besonderhede gestel nie. Die Romeinse Republiek was teen omstreeks 50 v.C. besig om sy magsgebied aansienlik uit te brei en uiteindelik die hele Gallië onder sy beheer te kry. Die suidelike deel van Gallië, wat destyds as Gallia Narbonensis bekend gestaan het, het reeds sedert 121 v.C. deel uitgemaak van die Romeinse Ryk en was 'n belangrike landverbinding tussen die Italiese en Iberiese Skiereilande. Casar het sy Galliese Oorloë tussen 58 en 51 v.C. gevoer om die Romeinse invloedsfeer in Suid-Gallië te beskerm, Galliese en Germaanse aanvalle uit die noorde af te weer en die Ryksgrens verder noordwaarts te verskuif – na die "Harige Gallië", soos dit ter onderskeiding van die geromaniseerde suide genoem is.[12]

Dit was dus allesbehalwe spesifiek op die Parisii-stam gemik, maar eerder op ander, magtige stamme in Galliese streke suid van Lutetia soos die Averni in die Sentraalmassief, die Carnutes in die gebied van die huidige Orléans en die Senones rondom die huidige Sens. Die Parisii het aanvanklik moeite gedoen om nie by die konflik betrokke te raak nie. Hulle het selfs Caesar se guns geniet. In 53 v.C. het die veldheer in Lutetia 'n vergadering van alle Galliese stamme byeengeroep.

Die ruïne van 'n Romeinse badhuis in die Quartier Latin

In die volgende jaar het die Parisii egter na die vyand oorgeloop. Caesar het troepe onder bevel van sy getroue luitenant Labenius na Lutetia ontbied waar die Parisii onder bevel van Camulogenus in 'n beslissende veldslag gedwing en verpletterend verslaan is. Parisii-stryders wat kon ontsnap het suidwaarts gevlug om by Vercingetorix se Galliese weerstandsmag aan te sluit. Volgens Caesar se verslae het sowat 8 000 Parisii aan die Slag van Alesië in 52 v.C. deelgeneem wat nog eens in 'n rampspoedige Galliese neerlaag geëindig het.

Ná die Galliese Oorlog is Gallië by die Romeinse Ryk ingelyf en in drie provinsies verdeel, waarby Lutetia deel uitgemaak het van Gallia Belgica, die mees noordelike van die drie administratiewe eenhede. Argeologiese vondse dui daarop dat Lutetia in die beginjare van die Romeinse bewind 'n fase van ekonomiese agteruitgang beleef het, sigbaar in die verminderde metaalwaarde van muntstukke wat in die stad geslaan is. Hierdie munte kontrasteer met indrukwekkende goue munte wat dekades voor die Romeinse verowering deur die Parisii vervaardig is en van die florerende ekonomie en handel in die gebied getuig.[13]

So het Lutetia uiters stadig tot 'n stedelike nedersetting volgens die klassieke Romeinse model ontwikkel. Die stad het heel waarskynlik 'n roostervormige straatuitleg gehad, waarby vir die tradisionele cardo, die hoofstraat wat in noord-suidelike rigting aangelê is, 'n bestaande pad gekies is wat parallel met die huidige Rue Saint-Jacques geloop het. Die grootste deel van die Romeinse nedersetting was aan die linkeroewer van die Seine in die huidige Vde arrondissement geleë. Die stadsgebied het vanaf die huidige Rue Mouffetard in die ooste tot Rue de Vaugirard (VIde arrondissement) in die weste en vanaf die huidige Boulevard Saint-Germain tot die heuwelpiek Montagne Sainte-Geneviève gestrek.

Volgens oorlewering het Sint Genoveva (Frans: Sainte-Geneviève, 422–502 of 512), wat later die beskermheilige van Parys sou word, in die tyd van die Hunne-invalle 'n beroep op Parysenaars gedoen om nie uit die Gallo-Romeinse stad te vlug nie. Almal sou bid en boete doen. Parys is inderdaad in 451 deur die Hunne – wat toe groot dele van Europa verwoes het – gespaar.[14]

Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Die Palais de la Cité en Sainte-Chapelle, soos gesien vanaf die linkeroewer in die Très Riches Heures du Duc de Berry, Junie 1410
'n Model van 16de eeuse Parys wys 'n stad met 'n oorwegend Middeleeuse karakter
Musée Carnavalet, Parys

Onder die Frankiese bewind het Parys as die hoofstad van die Neustriese Deelryk gedien, maar dit is in die Karolingiese tydperk weer afgeskaal tot hoofstad van die graafskap, terwyl die politieke magsentrum ooswaarts verskuif het. Maar desondanks het die stad as handelsplek gefloreer en die bevolking teen omtrent 800 reeds 20 000 beloop. Ongelukkig het ook Wikings aangetrokke gevoel tot Parys se rykdomme en die stad verskeie kere geplunder. Eers in 885 het graaf Odo uit die Robertynse dinastie daarin geslaag om die Noormanne te verslaan. Met die bekroning van hertog Hugo Capet as koning van Frankryk in 987 het Parys sy status as hoofstad van die ryk herwin.

Parys het groot welvaart uit sy ligging ervaar – belangrike handelsroetes het hier bymekaar gekom. Tydens die heerskappy van die konings Lodewyk VI en Lodewyk VII het die stad meer en meer administratiewe funksies as hoofstad van Frankryk begin waarneem, en sy beroemde skole – soos byvoorbeeld die katedraalskool van Sainte-Geneviève – het die vernaamste geleerdes en 'n groot aantal studente van verskillende Europese lande gelok. Hierdie skole wat hulle hoofsaaklik aan die linkeroewer van die rivier Seine geleë was, was die voorlopers van die Universiteit van Parys wat in die twaalfde eeu gestig is. Die studente het gewoonlik Latyn met mekaar gepraat sodat na hulle woonbuurt (wat vandag nog bestaan) as die Quartier Latin verwys is.

Nogtans was Parys in die 12de eeu nog 'n betreklik klein hoofstad wat naas die Île de la Cité uit verskeie klein nedersettings aan weerskante van die Seine bestaan het. Hierdie nedersettings het oorspronklik rondom abdye ontstaan. Aan die linkeroewer is die abdye van St-Germain-des-Prés, St-Marcel en St-Gervais danksy koninklike finansiële steun oor 'n tydperk van sowat 150 jaar geleidelik heropgebou na verwoestende Wiking-aanvalle. Die Seine se regteroewer het oor beter aanlêplekke beskik en kon sodoende voordeel trek uit die groeiende rivierhandel. Hier was drie nedersettings rondom die abdye van St-Germain-l'Auxerrois, St-Martin-des-Champs en St-Gervais geleë.

Die regentskap van koning Filips-Augustus tussen 1180 en 1223 word as wentelpunt in die geskiedenis van Parys beskou. In hierdie periode het die eerste permanente markgeboue in Les Halles ontstaan. Die bou van 'n stadsmuur, waarmee aanvanklik die sakesentrum aan die regteroewer, later ook buurte op die linkeroewer beskerm is, het 'n veilige omgewing vir 'n verskeidenheid gildes geskep wat ekonomiese welvaart vir die stad en hoër belastinginkomste vir die monarg verseker het. In die weste van Parys het Filips-Augustus 'n kasteel, die Louvre, laat bou om Parys teen moontlike aanvalle te beskerm. In 'n tyd, toe die hertog van Normandië ook as koning van Engeland geregeer het, is die pad tussen Parys en Normandië as potensiële invalsroete beskou.

Die stad het ook in die 13de eeu nog sterk gegroei; die koninklike paleis is vergroot en die Gotiese katedraal in die cité (historiese stadskern) is opgerig.

Vroeë moderne tydperk

[wysig | wysig bron]

Koning Filips II van Frankryk het die stad, wat nou sowat 80 000 inwoners getel het, laat versterk, en onder koning Lodewyk IX het dit uiteindelik tot een van die grootste en belangrikste stede in Europa ontwikkel. Die stad het saam met die monargie gegroei, maar weens sy oorgrote politieke belang is dit nooit stadstatus toegestaan nie. 'n Koninklike provost het Parys geregeer, en behalwe vir die gildes – by name die koopliede van die Seine – het die burgerskap nie daarin geslaag om 'n stadsraad of ander verteenwoordigende liggame te skep nie. Die Sonkoning Lodewyk XIV het verkies om in die nabygeleë Versailles te bly waar die Paleis van Versailles as uitgestrekte koninklike residensie ontstaan het. Versailles het sodoende tussen 1643 en 1715 as koninklike hoofstad gedien.

Franse Rewolusie

[wysig | wysig bron]

Die burgerlike verset teen die absolutistiese "Ancien Régime" het 'n hoogtepunt in die Franse Rewolusie bereik. Op 14 Julie 1789 het die burgers die gevangenis Bastille gestorm. Die Rewolusionêre het geprobeer om die land van die adelsheerskappy, die geestelikheid en ook die Christelike "bygeloof" te bevry. Die nekslag wat die adel en kerk toegedien is, het verseker dat Frankryk tot 'n sekulêre maatskappy van selfstandige burgers ontwikkel het.

Die skepping van 'n wêreldstad

[wysig | wysig bron]
Gustave Caillebotte – La Place de Dublin in die reëntyd (laat 19de eeu)
Die nuwe treinstasie Gare Saint-Lazare in aanbou, omstreeks 1868

In 1848 is Parys sterk deur rewolusionêre onluste geraak. Louis-Napoléon, wat Frankryk aanvanklik as president geregeer het en vanaf 1852 'n diktatoriese bewind as keiser daargestel het, was van voorneme om Parys in 'n monumentele wêreldstad om te skep. Georges Eugène Haussmann (1809–1891), 'n bekwame provinsiale prefek sonder enige formele opleiding in argitektuur of stadsbeplanning, is deur die keiser in 1852 as prefek van die département Seine – en dus Parys – benoem om dié plan te verwesenlik.[15] Dit was die begin van vier dekades se ongekende boubedrywighede. Altesaam 2,5 miljard goudfrank is gedurende die Tweede Keiserryk tussen 1852 en 1870 aan dié projek bestee (banklenings, wat hiervoor aangegaan is, was eers in 1929 afbetaal). In dié twee dekades het die Franse hoofstad ongekende groei ervaar – die inwonertal het van 1,2 miljoen in 1850 toegeneem tot twee miljoen in 1870.[16]

In daardie tyd het die binnestad van Parys in baie opsigte nog 'n sterk middeleeuse karakter gehad, terwyl voorstede en krotbuurte langs die stadsrand uitgebrei het. Die onhigiëniese toestande in kwartiere soos die Marais het nie net ernstige gesondheidsrisiko's vir hul bewoners ingehou nie (cholera en tifus was 'n konstante bedreiging), ook die stank was ondraaglik.[17]

Die veranderinge, wat Parys gedurende Haussmann se stadsvernuwing ondergaan het, was radikaal en omvattend. Geen ander stad is ooit in vredestye só ingrypend omgevorm soos die Franse hoofstad gedurende Haussmann se ampstermyn nie. Die herstrukturering is in drie fases deurgevoer en het die sloping van 19 730 historiese geboue (waaronder Haussmann se geboortehuis in 55 rue de Faubourg-du-Roule) en die bou van 34 000 nuwe woonhuise behels. Parys se historiese nou straatjies is vervang deur nuwe pragtige lane nie net vanweë hul wydte en lengte besonder indrukwekkend was nie, maar eers deur lang rye van reëlmatige ruim woonstelgeboue in die neo-klassieke styl met helder, roomkleurige fasades hul besondere karakter gekry het.

Die buurt rondom die treinstasie Saint- Lazare was een van die kerngebiede van Haussmann se radikale herstrukturering. Wes daarvan was 'n heuwelagtige buurt geleë wat vanweë die groot getal Poolse immigrante "Klein-Pole" genoem is; die meeste van hulle is in barakke gehuisves. Nadat die bewoners verdryf is, is die terrein vlak gemaak en nuwe reguit strate aangelê. Kruisende strate het skerp hoeke gevorm.

'n Lugfoto van Parys wys Haussmann se sentrale plein Place de l'Ètoile (tans Place Charles de Gaulle) wat, met die Triomfboog as sy middelpunt, die uitgangspunt vir twaalf radiale stadslane vorm
Gare du Nord – 'n simbool van die nywerheidsomwenteling

Die Place d'Europe, 'n plein wat reeds voor Haussmann se herstrukturering bestaan het, is in 'n soort brug bo-oor die spore van die Saint-Lazare-stasie omgeskep. Ter geleentheid van die wêreldtentoonstelling in 1867 is grootskaalse bouprojekte aangepak. Groot getalle nuwe woonhuise met vyf verdiepings het 'n besondere karakter aan die kwartier gegee. Hul neoklassieke ontwerpe met hoë "Paryse" vensters, gietysterbalkonne en 'n maksimale hoogte van 35 meter oorheers vandag nog steeds die binnestad van Parys.

Die nuwe Quartier de l'Europe was 'n aantreklike woonbuurt vir die voorstanders van 'n "moderne stedelike lewe", waaronder talle impressionistiese skilders soos Édouard Manet, Claude Monet en Gustave Caillebotte, maar ook digters soos Stéphane Mallarmé en skrywers soos Maxime du Camp. Haussmann se nuwe kwartier was daarnaas 'n geskikte woonplek vir Émile Zola se romanheld Jacques Lantier.

Naas elegante woonkwartiere en lane het Haussmann se ontwerpe voorsiening gemaak vir 'n moderne stedelike infrastruktuur met ruim openbare pleine, groot stadsparke (waarvoor Londen se Hyde Park as voorbeeld gedien het), 'n nuwe rioleringstelsel, 'n nuwe akwaduk wat Parysenaars van vars drinkwater voorsien het, 'n netwerk van ondergrondse gaspyplyne vir die beligting van strate en woonhuise, kunsvolle fonteine, ryk versierde openbare toilette en lang rye nuutgeplante bome.

Ewe elegant was die ontwerpe vir nuwe spoorwegstasies soos die Gare du Nord en Gare de l'Est, die opulente Paryse Operahuis, nuwe teaters op die plein Place du Châtelet, die Les Halles-markgebou met sy kunsvolle ysterraamwerk (onsterflik gemaak deur Émile Zola se roman "Die buik van Parys"), maar ook nuwe kerk- en skoolgeboue. Een van Hausmann se meesterwerke was die Place de l'Étoile (tans Place Charles de Gaulle) met sy netwerk van twaalf radiale lane.

Die skadukant van Haussmann se projek was die verdrywing van armer bewoners (van Parys se arm buurte het voor die verwesenliking van Haussmann se plan tot vlakby die keiserlike paleis gestrek), onteienings en die grootskaalse sloping van bestaande woongeboue. Woonstelle in die Paryse binnestad was nou nog net vir die nouveaux riches, die nuwe welgestelde bourgeoisie, bekostigbaar.

Haussmann se planne was ook ná sy gedwonge aftrede in 1870 – die keiser is skerp gekritiseer vir die buitensporige koste wat aan die stadsvernuwing verbonde was en moes van sy prefek ontslae raak – rigtingwysend vir die ontwikkeling van Parys. Groot woonstelle en die nabyheid van openbare vervoer soos treine vir naweekuitstappies langs die Seinerivier het middelklashuurders na die kwartier gelok. Dit was hul leefstyl wat die Franse impressioniste in hul skilderye sou uitbeeld.

Laat 19de eeu

[wysig | wysig bron]
Die katedraal Basilique du Sacré-Cœur de Montmartre
Die Paryse Wêreldtentoonstelling van 1900

Die militêre nederlaag teen Pruisiese troepe in die slag van Sedan gedurende die Franko-Pruisiese Oorlog van 1870–1871 en die gevangeneming van keiser Napoléon III het die Tweede Keiserryk se ondergang ingelui. 'n Provisoriese regering het op 4 September 1870 in die Paryse Raadsaal die Derde Franse Republiek geproklameer, terwyl die stad deur Pruisiese troepe beleër is. Op 28 Januarie 1871 is Parys deur Pruisiese magte beset.

Die beleg van Parys het in die winter van 1870–1871 tot 'n hongersnood gelei en rewolusionêre neigings aangespoor. Tussen Maart en Mei 1871 het kommunistiese en sosialistiese arbeiders, die sogenaamde Commune van Parys, in opstand teen die heersende regering gekom. Die rebellie is deur regeringstroepe genadeloos onderdruk.

As gevolg van die oorlog het Frankryk sy leidende politieke rol in Europa kwytgeraak, maar desondanks het Parys in die tagtigerjare van die 19de eeu weer 'n tydperk van bloeiende welvaart beleef wat later as Belle Époque bekend sou staan. In hierdie tydperk het weelderige afdelingswinkels en paleise ontstaan, net soos die Eiffeltoring – 'n projek wat, toe dit in (1889 as die destyds hoogste gebou op aarde voltooi is, nog omstrede was onder Parysenaars, maar uiteindelik die bekendste baken van die Franse hoofstad geword het. Ander opspraakwekkende bouprojekte in dié tyd sluit die eerste veelverdieping-staal-betongebou (voltooi in 1892), die Grand Palais en Petit Palais (1900), die brug Pont Alexandre III, die basiliek Sacré-Cœur (1900) en die Métro (moltreinlyn) tussen Maillot en Vincennes (1900) in. Naas die wêreldtentoonstellings van 1878, 1889 en 1900 het Parys ook as gasheerstad van die Olimpiese Somerspele 1900 opgetree.

Die tydgees van die Belle Époque is weerspieël in 'n bloeiende kunslewe, Parys se operahuise en teaters, in elegante modestyle, straatkafees en salonne. As kulturele spilpunt van Europa het Parys 'n magneet vir kunstenaars en intellektueles geword, terwyl jong welvarendes 'n besoek aan die Franse hoofstad as die afronding en bekroning van hul opleiding beskou het.[18]

20ste eeu

[wysig | wysig bron]
Die Tolbiac-toringblok is 'n voorbeeld van 20ste eeuse massabehuising in sogenaamde grands ensembles
Nagaansig van die noordfasade van die Palais Bourbon, setel van die Franse parlement (Assemblée nationale of Nasionale Vergadering)
Fontein op die Place de la Concorde
Afdelingswinkel Galeries Lafayette op Boulevard Haussmann

In 1921 het die bevolking van Parys sy historiese maksimum van meer as 2,9 miljoen bereik.[19] Die Tweede Wêreldoorlog en die Duitse blitzkrieg het die bitter jare van Duitse besetting gebring. In die laat somer van 1944 is Parys deur Geallieerde Anglo-Franse Magte bevry.

Teen die middel van die 20ste eeu het groot getalle binnelandse migrante uit landelike gebiede en immigrante uit oorsese Franse besittings hulle in Parys kom vestig en nuwe demografiese uitdagings soos oorbevolking vir die stedelike administrasie gebied. 'n Maklike, maar kortsigtige oplossing was om mense in buitewyke, die sogenaamde banlieues buite die kringsnelweg Boulevard périphérique, te huisves waar in die 1960's en 1970's uitgestrekte satellietstede ontstaan het wat hoofsaaklik uit groot woonstelblokke bestaan het, sogenaamde grands ensembles met onvermydelike hoë bevolkingsdigthede.

Die bevolking van Sarcelles, die eerste van hierdie residensiële nedersettings, het van slegs 8 000 in 1954 gegroei tot 35 000 sewe jaar later. Ontoereikende beplanning en die gebrek aan infrastruktuur het die lewensgehalte van satellietstadsbewoners verswak. So is byvoorbeeld min nuwe werksgeleenthede geskep en is inwoners genoodsaak om lang pendelritte na die binnestad af te lê. Grootskaalse werkloosheid het mense hulself dikwels tot misdaad laat wend.

Studenteproteste en stakings dwarsoor die land het die Paryse regering in 1968 geskud. Anders as byvoorbeeld in Duitsland het die studente- en werkersbewegings in Frankryk saamgesluit, en die eskalerende betogings en proteste het vir sommige destydse waarnemers selfs die gevaar van 'n burgeroorlog ingehou.

Die sestigerjare was nogtans 'n tydperk van ekonomiese vooruitgang; die ontwikkeling van die wolkekrabberbuurt La Défense het in hierdie periode 'n aanvang geneem. Parys het sy rol as wêreldstad in die volgende dekades met 'n reeks asemrowende argitektoniese projekte bevestig wat deur die Franse Staatspresidente bevorder is. President Georges Pompidou was die dryfkrag agter die bou van die Centre Culturel in die stadswyk Beaubourg; President Valéry Giscard d'Estaing het die Musée d'Orsay, die Institut du Monde arabe en die Cité des Sciences et de l'Industrie bevorder; terwyl die glaspiramide van die Louvre, die Opéra-Bastille, die Bibliothèque de France en die Grande Arche in La Défense onlosmaaklik met President François Mitterrand verbind is.

21ste eeu

[wysig | wysig bron]

In Desember 2005 het die EPAD, die organisasie wat tans die ontwikkeling van La Défense beheer, planne bekend gestel om 'n nuwe reeks van wolkekrabbers (waarvan een met 'n hoogte van sowat vierhonderd meter) en 'n nuwe skouburg met 5 000 sitplekke op te rig.

Parys se banlieues, 'n ring van voorstede wat onder meer as woonkwartiere vir minderbevoorregte bevolkingsgroepe soos immigrante uit Noord- en Swart-Afrika dien, was in die herfs van 2005 weer eens die skouplek van gewelddadige onluste, wat vinnig oor die hele land versprei het. Grootskaalse immigrasie van ongeskooldes, wat werkloosheid, armoede, woningnood en misdaad tot gevolg het, het 'n ernstige probleem vir Franse metropole geskep. Die opgehoopte frustrasie van veral jeugdiges word vergroot deur die feit dat hulle grotendeels Franse burgerskap het, maar desondanks nie in die Franse maatskappy geïntegreer is nie. Baie van hulle kan selfs nie die bus- of treinkaartjie vir 'n besoek aan die Paryse binnestad bekostig nie en staan dus geen kans op 'n werkgeleentheid nie.

Die onluste in 2005 het ná die dood van twee jeugdiges in 'n ongeluk uitgebreek. Hulle het valslik geglo dat hulle deur polisiemanne agternagesit sou word en gevlug. Gewelddadige betogings en opmerkings deur die destydse Franse Minister van Binnelandse Sake, Nicolas Sarkozy, dat die voorstede "skoongemaak" moet word, het die aanleiding tot die landswye onluste gegee.

Vier dae na die Islamistiese terreuraanval op Charlie Hebdo: Betogers op die plein Place de la République, 11 Januarie 2015

Op 7 Januarie 2015 het twee Moslem-ekstremiste, albei Franse burgers wat in die metropolitaanse gebied van Parys grootgemaak is, die Paryse redaksiekantoor van Charlie Hebdo, 'n satiriese tydskrif wat met die Islamitiese profeet Mohammed spot gedryf het, aangeval en dertien mense doodgeskiet, onder wie vyf bekende spotprenttekenaars, die tydskrif se direkteur en drie polisielede. Twee dae later het 'n derde terroris vier gyselaars in 'n aanval op 'n Joodse supermark naby die Porte de Vincennes vermoor. Al drie aanvallers is nog op dieselfde dag deur die Paryse polisie doodgeskiet. Die twee aanvalle was die dodelikste terreuraanvalle in die Paryse hoofstad sedert 1961.[20] Op 11 Januarie het 'n geskatte 1,5 miljoen mense, waaronder politieke leiers uit die buiteland, aan 'n betoging teen terrorisme en vir die vryheid van spraak deelgeneem.[21]

Op 13 November 2015 het Moslem-ekstremiste en beweerde aanhangers van die sogenaamde "Islamitiese Staat"-organisasie (IS) 'n reeks aanvalle op burgerlike teikens geloods. Tientalle besoekers van drie straatkafees is doodgeskiet; 'n selfmoordbommer het homself buite die stadion Stade de France opgeblaas waar op dié tydstip 'n sokker-wedstryd tussen Frankryk en Duitsland se nasionale spanne gehou is wat ook deur die Franse president François Hollande en die Duitse minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier, bygewoon is; en terroriste, wat met Kalasjnikof-gewere bewapen was, het die Bataclan-teater- en konsertsaalgebou aangeval waar hulle tientalle toeskouers doodgeskiet het voordat hulle hulself opgeblaas het. Terwyl sewe aanvallers gesterf het, kon twee terroriste ontsnap. Altesaam 130 mense het in die terreuraanvalle gesterf en meer as 350 is beseer.

President Hollande het die aanvalle as 'n oorlogsdaad van die IS beskryf,[22] die noodtoestand in heel Frankryk verklaar, grenskontrole heringestel en vyftienhonderd soldate in Parys ontplooi. Skole en universiteite is net soos ander openbare instellings in Parys op die volgende dag gesluit.

Vroeg op 18 November is drie verdagte terroriste, onder wie Abdelhamid Abaaoud wat die aanvalle na bewering beplan en gekoördineer het, in die voorstad Saint-Denis deur polisielede doodgeskiet.

Administrasie

[wysig | wysig bron]

Administratiewe struktuur

[wysig | wysig bron]
Anne Hidalgo, burgemeesteres van Parys, is in 2020 herverkies vir die ampstermyn 2020–2026

Volgens die Wet oor die administratiewe herstrukturering van Parys van 10 Julie 1964, wat op 1 Januarie 1968 volledig in werking getree het, vorm Parys tegelykertyd 'n nedersetting (commune) en 'n département. Voorheen was Parys sedert 1790 die administratiewe setel van die département Seine. Die stad word onderverdeel in twintig stedelike arrondissements of stadsdistrikte waarvan die grense in 1860 afgebaken is. Hulle het die twaalf oorspronklike arrondissements vervang wat gedurende die Franse Rewolusie op 11 Oktober 1795 geskep is. Tans word die Paryse hoofstad verder verdeel in agttien kiesafdelings.

Die Paryse arrondissements en hul quartiers

Die arrondissements word op hulle beurt elkeen onderverdeel in vier quartiers of stadsbuurte. Daar is dus altesaam tagtig stadsbuurte wat spiraalvormig gerangskik is. Dié spiraal loop vanaf die Louvre, die 1ste Arrondissement, kloksgewys twee keer rondom die historiese middestad van die Île de la Cité tot by die 20ste Arrondissement by die Place de la Nation. Ook die poskode – in Frankryk 'n reeks van vyf syfers – dui aan in watter arrondissement 'n posadres geleë is. Die eerste twee syfers (75) dui die département aan (Parys), die laaste twee die arrondissement.

Die name van tradisionele stadsbuurte is afgelei van vroeëre dorpe wat gaandeweg by Parys ingesluit is namate die stadsgebied uitgebrei het, soos byvoorbeeld La Villette, Belleville en Chaillot, van kerke soos Saint-Germain-des-Prés, van historiese of belangrike geboue soos Les Halles en Opéra of van historiese besonderhede soos die Quartier Latin. Faubourgs – histories buurte wat buite koning Lodewyk XIII se stadsmuur geleë was – is tans voorstede wat meestal na die mees nabygeleë vroeëre nedersetting vernoem is. So was Montmartre byvoorbeeld die voorstad wat in rigting van die gelyknamige dorp geleë was.[23]

Die stadsraad van Parys, die Conseil de Paris met 163 lede, word deur Paryse stemgeregtigdes vir 'n termyn van ses jaar verkies. Die stadsraad benoem nie net die burgemeester (Maire) nie, maar vorm tegelykertyd as Conseil Général (Algemene Raad) die wetgewende liggaam van Parys as département. In 2014 is die Sosialistiese Party se kandidaat, Anne Hidalgo, vir 'n ampstermyn van ses jaar as burgemeesteres verkies.

Die prefek (Préfet de Paris) as administratiewe hoof van die département word deur die Franse regering benoem. Tans beklee Daniel Canepa dié pos. Canepa dien gelyktydig as prefek van die administratiewe gewes Île-de-France en as voorsitter van die administratiewe gewestelike raad (Conseil Régional). Die Paryse polisiediens word deur 'n polisieprefek bestuur.

Historiese ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
Hôtel de Ville in 1583

Water het 'n sentrale rol by die ontwikkeling van Parys se stedelike administrasie gespeel aangesien dit histories teruggevoer kan word na die invloedryke gilde van "Koopliede te water" wat in die middeleeue alle handelsaktiwiteite op die Seine en sy syriviere beheer het. Teen die middel van die 13de eeu het koning Lodewyk die Heilige leidende lede van dié vereniging as stadsregering benoem. Hierdie échevins of raadslede het onder leiding van 'n prévos des marchands (provoos van handelaars) vergader wat die bevoegdhede van 'n burgemeester uitgeoefen het. Die koopmansgilde se embleem – 'n boot – maak steeds deel uit van Parys se stadswapen.[24]

In 1357 is die setel van die stadsregering op inisiatief van Étienne Marcel, die destydse provoos van handelaars, na die Maison des Piliers, 'n 14de eeuse gebou op die Place de la Grève ("Sandoewerplein") verskuif. Die ou raadsaal is in die 16de eeu afgebreek en deur 'n nuwe gebou in die Renaissance-styl vervang. Hier is op 4 September 1870 die Derde Franse Republiek geproklameer. Een jaar later is die raadsaal gedurende die Paryse Commune-opstand deur 'n brand vernietig nadat die opstandelinge dit as hul hoofkwartier gebruik het.

Nagaansig van die Hôtel de Ville

Die derde en huidige raadsaal (Hôtel de Ville) is deur die argitekte Théodore Ballu (1817–1885) en Édouard Deperthes (1833–1898) volgens die Neorenaissancestyl met enkele Gotiese elemente ontwerp en tussen 1874 en 1882 gebou. Die fasade is met 'n groot horlosie en 146 standbeelde van bekende persoonlikhede soos wetenskaplikes, skrywers en kunstenaars versier.

Die plein voor die raadsaal het deur die eeue verskeie kere in die brandpunt van politieke gebeure gestaan. In die middeleeue was die plein aan die Seine-oewer die oudste ankerplek en bakermat van die stad Parys. Hier is die belangrikste in- en uitvoergoedere gehanteer. Hier is groot feeste gehou, maar ook teregstellings het hier plaasgevind. Gedurende die Franse Rewolusie het die plein in die skadu van die guillotine gestaan en is koning Lodewyk IV hier gedwing om die Franse driekleurvlag (tricolore) te soen. Die raadsaal het vir die rewolusionêres Danton, Marat en Robespierre as hoofkwartier tydens hul Skrikbewind gedien.

Weens die groot aantal werkers, wat gedurende stakings en betogings op die Place de la Grève vergader het, het idiome soos faire (la) grève en être en gréve ("staak") ingang tot Frans gevind. Op 19 Maart 1803 is die plein se naam gewysig na Place de l'Hôtel-de-Ville ("Raadhuisplein"). In 1982 is motors van die plein verban.

Parys as regeringsetel

[wysig | wysig bron]
Hoofingang tot die Palais de l'Élysée, die ampswoning van die Franse president

Parys is die hoofstad van die Franse Republiek, setel van die staatspresident, die regering en die twee kamers van die Franse parlement – die Nasionale Vergadering as laer- en die Senaat as hoërhuis. Ondanks alle pogings om politieke, administratiewe en ekonomiese verantwoordelikhede na die provinsiale sentra te verskuif, word die meeste belangrike politieke en ekonomiese besluite steeds in Parys geneem.

Die feit dat 'n vyfde van die Franse bevolking in die metropolitaanse gebied van Parys saamgetrek is en byna dertig persent van die land se bruto binnelandse produk hier gegenereer word, verleen 'n enorme gewig aan die hoofstad.

Métropole du Grand Paris

[wysig | wysig bron]

Op 1 Januarie 2016 is die sogenaamde Métropole du Grand Paris gevorm, 'n samesluiting van die Stad Parys en 130 munisipaliteite in die omliggende départements Essonne, Hauts-de-Seine, Seine-Saint-Denis, Val-de-Marne en Val-d'Oise, wat die ekonomiese, kulturele, opvoedkundige, sosiale en ekologiese ontwikkeling van Groter Parys, 'n gebied met 'n oppervlakte van 814 km2 en 'n bevolking van sewe miljoen, koördineer.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
'n Chanel-winkel
Die katedraal Notre-Dame
Roosvenster van die Sainte-Chapelle

Parys is die vernaamste ekonomiese sentrum van Frankryk, wat met sy reusagtige afsetgebied nog steeds aantreklik is vir die vervaardigers van verbruikersgoedere. Meer as 'n kwart van alle Franse nywerhede het hulle hoofkwartiere in die metropolitaanse gebied van Parys, en altesaam 593 000 ondernemings is in die hoofstadgewes Île-de-France gesetel. Tans is die farmaseutiese nywerheid, die telekommunikasiebedryf, die uitgewersbedryf en navorsing die suksesvolste sektore van die Paryse ekonomie. Ten opsigte van navorsing en ontwikkeling het Parys nou die belangrikste stad in Europa geword, en vyf van die twaalf grootste banke het hulle hoofkwartiere in die stad, net soos talle versekeringsmaatskappye en 'n groot aantal ondernemings uit die mediabedryf. Parys is tradisioneel die sentrum van die Franse uitgewers- en drukkerybedryf.

Die stad staan tradisioneel bekend vir sy groot verskeidenheid luukse artikels, wat van haute couture-mode en juweliersware tot reukwater en skoonheidspreparate strek. Ander belangrike nywerhede vervaardig chemiese produkte, elektroniese toerusting, motors en masjiene.

Die meeste ondernemings van die Franse dienstesektor, veral finansiële instellings soos banke, opereer eweneens vanuit die hoofstad. Die finansiële sektor met die multinasionale banke BNP Paribas, Société Générale en Crédit Agricole bied tans werksgeleenthede aan sowat 270 000 mense.

Sy rol as een van die belangrikste handelsmetropole in Europa verseker ook dat groot multinasionale ondernemings soos Sony, IBM, Hewlett-Packard France, Siemens en Motorola hulle Franse hoofkwartiere hier het. 38 multinasionale ondernemings het hulle internasionale hoofkwartier in die stad. Parys is ook die setel van die Europese beurs Euronext.

Parys trek as een van die gastronomiese hoofstede van die wêreld voordeel uit sy ligging in die hart van een van die vrugbaarste landboustreke in Europa. Landbou vorm dan ook eeue lank die ekonomiese basis van die omgewing en verskaf die voedsel vir 'n vinnig groeiende bevolking.

Ondanks die feit dat Parys een van die welvarendste gebiede in die Europese Unie is, bly die werkloosheidsyfer met sowat tien persent (7,5 persent in die metropolitaanse gebied) steeds sorgwekkend. Na raming is daar meer as 50 000 dakloses wat skuiling in die metrostasies en ander plekke moet vind.

Parys se posisie in die globale ekonomie

[wysig | wysig bron]
'n Vloedgolf van toeriste sak daagliks op Parys toe: die gewoel van Montmartre in Rue de Steinkerque

Parys en sy onmiddellike omgewing, die Île-de-France, behoort met 'n bruto geografiese produk (BGP) van €449 miljard (VSA-$507 miljard) in die jaar 2003 tot die enjins van die wêreldekonomie en sou as 'n onafhanklike staat as die vyftiende grootste ekonomie ter wêreld gelys word.

Met slegs 18,7 persent van Frankryk en 2,5 persent van die Europese Unie se totale bevolking genereer die hoofstad en sy omgewing naastenby dertig persent van Frankryk en 4,5 persent van die Europese Unie se BGP. In Noord-Amerika is daar net twee metropolitaanse gebiede met 'n groter BGP as Parys, New York Stad en Los Angeles, terwyl in Asië slegs Tokio en Osaka meer dienste en goedere produseer as die Franse hoofstadgewes Île-de-France.

In teenstelling met wêreldstede soos Londen en New York, wat hulle in die wêreldekonomie op die verskaffing van finansiële dienste gespesialiseer het, beskik Parys nog oor 'n relatief sterk nywerheidsbasis. Met sy 650 000 werknemers is die Paryse nywerhede die belangrikste in Frankryk, nog voor die gebied Rhône-Alpes met sy metropool Lyon.

Desondanks bly die verskaffing van dienste met toegevoegde waarde die belangrikste groeisektor van die Paryse ekonomie. Ten spyte van Frankryk en Parys se gewildheid as die vernaamste toeristebestemmings ter wêreld verskaf die toerismebedryf minder as vier persent van die werksgeleenthede.

Parys is een van die gewildste reisbestemmings op aarde, met 40 miljoen besoekers in 2018. Daarnaas is dit 'n belangrike gasheerstad vir internasionale konferensies met jaarliks meer as 1 000 byeenkomste, waarvan 300 internasionale vergaderings en 300 handelskoue is. Sakereise verskaf 'n jaarlikse inkomste van 3,5 miljard Euro aan die stad, terwyl die toerismebedryf meer as 9,9 miljard Euro per jaar verdien. Massatoerisme plaas nogtans toenemende druk op die stad se infrastruktuur. So is die stadsregering volgens nuusberigte van plan om toeristebusse uit die historiese middestad te verban. Besoekers en toeraanbieders word aangeraai om gebruik te maak van omgewingsvriendelike alternatiewe soos openbare vervoer, fietse of verkenning te voet.[25]

Besienswaardighede

[wysig | wysig bron]
Die Eiffeltoring teen sonop
Die Panthéon
Pont-Notre Dame (Notre Dame-brug)
  • Die Arc de Triomphe is 'n reusagtige triomfboog in die neoklassieke styl. Keiser Napoléon I begin die bouwerk in 1806. Die boog, wat veertien jaar later voltooi is, verrys nou bo die twaalf strate wat straalvormig van die Place de l'Étoile uitgaan. Sedert 1920 huisves die boog die Graf van die Onbekende Soldaat. Ter nagedagtenis van alle gesneuwelde Franse soldate brand hier 'n ewige vlam.
  • Die Cathédrale Notre-Dame de Paris is in 1163 deur die destydse biskop Maurice de Sully begin en eers in 1345 voltooi. Die katedraal verteenwoordig twee eeue van gotiese boukuns.
  • Die Conciergerie is 'n reusagtige gebou aan die oewer van die Seine, wat eers as koningspaleis van die Capet-dinastie en later, tydens die Franse Rewolusie, as kerker gedien het. Die gevangenes wat hier aangehou is sluit prominentes soos Marie-Antoinette, Danton, Robespierre en André Chenier in. Die gebou, wat vandag 'n deel van die Paleis van Justisie is, beskik oor vier torings en drie sale in die gotiese styl.
  • Die Eiffeltoring aan die noordwestelike kant van die Champ-de-Mars is die bekendste baken van die Franse hoofstad, Parys. Die toring wat van staal gemaak is, is deur die Franse ingenieur Alexandre Gustave Eiffel (1832–1923) beplan en vir die Wêreldtentoonstelling en die eeufees van die Franse Rewolusie in 1889 gebou. Die toring is 300,5 meter hoog (met sy antenne 320,8 meter) en dien vandag as uitkykpunt en uitsaaitoring. Daar is hysbakke na die uitkykplekke wat 'n voortreflike uitsig oor die stad bied, en in goeie weersomstandighede kan 'n mens sowat 70 kilometer ver sien. Waagmoediges kan met die 1 652 trappies op na die boonste platform stap. Die toring huisves 'n poskantoor, 'n rolprentteater wat met sy films die geskiedenis van die Eiffeltoring behandel, en op die tweede verdieping, die bekende Jules Verne restourant. Dit is so gewild dat besprekings weke vooraf gemaak moet word.
  • Die Grande Arche de la Défense is 'n soort moderne weergawe van die Paryse Triomfboog (Arc de Triomphe). Die reusagtige, hoekige boog wat sowat 110 m hoog is, lê op die as van die Champs-Élysées. Die boog is met Italiaanse Carraramarmer en glas beklee en bied 'n asemrowende uitsig oor die stad. Die Roete van Hedendaagse Kuns met sowat 60 beeldhouwerke maak van La Défense – die grootste en modernste sakesentrum van Europa – 'n soort opelugmuseum.
  • Die Hôtel National des Invalides / Tombeau de Napoléon is in 1670 deur koning Lodewyk XIV (Louis XIV) vir die invalides opgerig. In die pragtige goue koepel word keiser Napoléon se as bewaar. Die gebou huisves ook die groot oorlogsmuseum Musée de l'Armée met 300 000 historiese voorwerpe.
  • Die indrukwekkende moderne gebou van die Opéra National de Paris-Bastille verrys op die Place de la Bastille. Die operateater, wat deur die bekende argitek Carlos Ott ontwerp en in 1989 ingewy is, beskik oor 2 700 sitplekke.
  • Die Opéra National de Paris-Garnier is deur die argitek Garnier in die ryk versierde styl van Napoléon III ontwerp. Die Italiaanse Saal beskik oor uitstekende akoestiese eienskappe; Marc Chagall het die pragtige skildery aan die plafon geskep.
  • Die Panthéon is 'n indrukwekkende kerk wat in 1758 deur die argitek Jacques-Germain Soufflot (1713–1780) opgerig is. Dit verrys bo die stadswyk Quartier Latin op die hoogtes van die Montagne Sainte-Geneviève. In 1791 neem die Assemblée Nationale die besluit om van die Panthéon die begraafplaas van die groot persoonlikhede van Frankryk te maak.
  • Sainte-Chapelle is 'n kunsvolle gebou wat in 1246 deur Lodewyk die Heilige opgerig is om die lydensrelikwieë te bewaar. Die glasvensters uit die 13de eeu maak 'n groot deel van die mure uit.
  • Die Jardin du Luxembourg in die Quartier Latin (6de arrondissement) vorm die pragtige omgewing van die Palais du Luxembourg. Die paleis is tussen 1615 en 1627 deur die argitek Salomon de Brosse in die Florentynse styl opgerig. Vandag is dit die setel van die Franse Senaat. Die park met sy pragtige paaie, bome en poele is 'n gewilde ontspanningsplek vir die Parysenaars. Die talle standbeelde van Franse konings en koninginne maak van die park ook 'n historiese buitelugmuseum.

Bekende stadswyke

[wysig | wysig bron]
Uitsig oor La Défense met die Eiffeltoring in die voorgrond
  • La Défense in die weste van Parys is die grootste en belangrikste sentrale besigheidsdistrik van Europa. Dit dien as 'n gekombineerde woonbuurt en sakesentrum wat die hoofkwartiere van die belangrikste internasionale maatskappye huisves. Die stadswyk is 'n reusagtige wandellaan, terwyl die parkeerplekke, stasies, buslane en ander geriewe ondergronds aangelê is. Die futuristiese karakter van hierdie wolkekrabberbuurt word deur die reusagtige Grande Arche beklemtoon.
  • Faubourg Saint-Honoré is die hoofkwartier van die crème-de-la-crème van die internasionale modeontwerpers – rondom die kerk La Madeleine is name soos Hermès, Yves Saint-Laurent, Dior en Versace ou bekendes.
  • La Place de la Concorde, Champs-Élysées: Aan die einde van een van die mooiste lanings ter wêreld lê die grootste plein van Parys: La Place de la Concorde. Sedert 1836 staan hier 'n obelisk uit die Egiptiese stad Luxor.
  • Quartier du Marais, place des Vosges: Tydens die 17de eeu is die Quartier Marais die gewildste woonbuurt van die Paryse adel wat hier sy stadspaleise oprig. Vandag huisves die stadswyk talle kroeë en boetieke. Die Place des Vosges bekoor met sy harmoniese huisfasades.
  • Quartier Montmartre, place du Tertre: Tot die 19de eeu bly die Quartier Montmartre 'n klein dorpie. Na sy inlywing by die stad Parys word dit die gewildste ontmoetingsplek vir die Paryse kunstenaars en intellektueles. Vandag lok dit baie toeriste.

Museums

[wysig | wysig bron]
Die Musée d'Orsay
Leonardo da Vinci se Mona Lisa – een van die Paryse Louvre-museum se waardevolste skatte...
...soos uit die getalle geesdriftige fototoeriste afgelei kan word
  • Die Centre National d'Art Moderne et de Culture Georges Pompidou met sy hipermoderne argitektuur, wat deur die Italiaanse meesterargitek Renzo Piano ontwerp is, is in een van Parys se oudste woonbuurte en lok miljoene in- en uitheemse besoekers. Dit stel die kuns van die 20ste eeu ten toon en beskik oor een van die omvattendste versamelings. 'n Verskeidenheid uitstallings, konserte en rolprentvertonings is deel van die konsep.
  • Die Institut du Monde Arabe is in 1980 gestig om die verwisseling van gedagtes tussen die Westerse en die Islamitiese beskawings te bevorder. In die gebou met sy kenmerkende fasades van glas en staal is 'n museum en 'n ouditorium ingerig. Die instituut bied ook gereeld uitstallings aan. Die restourant op die boonste verdieping bied 'n pragtige uitsig oor die stad.
  • Die Musée du Louvre is 'n voormalige koningspaleis wat nou een van die rykste museums wêreldwyd huisves. Die reusagtige glaspiramide in die binnehof is deur die Chinees-Amerikaanse argitek Ieoh Ming Pei ontwerp.
  • Die Pavillon de Marsan, in die noordelike vleuel van die Louvre, huisves twee museums: Die Musée des Arts Décoratifs en die Musée des Arts de la Mode. Meubels, sierade, tapyte, klere en ander voorwerpe uit die verlede word hier vertoon.
  • Die Musée d'Orsay is 'n voormalige stasiegebou – die Gare d'Orsay – wat nou een van die grootste en belangrikste museums van Parys huisves. Sy versamelings stel die kuns van die jare 1848 tot 1914 ten toon en word deur wisselende uitstallings aangevul.
  • 'n Voormalige herehuis uit die 17de eeu, die Hôtel Salé, huisves die Musée Picasso. Die naam van die herehuis verwys na sy oorspronklike eienaar, Pierre Aubert, Seigneur de Fontenay, wat verantwoordelik is vir die belasting op sout, die sogenaamde gabelle. Die herehuis word in die jare 1656 tot 1659 deur die argitek Jean de Bouiller in die tipiese boustyl van die stadswyk Marais opgerig. Die huis word in 1964 deur die stad Parys gekoop, en in die jaar 1974 word die besluit geneem om die Picasso-museum in die Hôtel te huisves. Die museum word in 1985 geopen. Meer as 200 skilderye, 150 beeldhouwerke, 3 000 tekeninge en prente van Pablo Picasso kan hier bewonder word.
  • Die Musée Rodin in die Hôtel Biron, 'n meesterlike voorbeeld van die Rocaille-boustyl en voormalige stadspaleis uit die 19de eeu, vertoon die grootste kunswerke van die beroemde beeldhouer soos Les Bourgeois de Calais, La Porte de l'Enfer, Le Penseur en Balzac.
  • Die Museum vir Natuurgeskiedenis – Grande Galerie de l'Évolution beskik oor aansienlike versamelings fossiele en diergeraamtes, halfedelgesteentes (die grootste van sy soort wêreldwyd), reusagtige kristalle en meteoriete.
  • Die Stad van die Wetenskap en die Nywerheid van La Villette (Cité des Sciences et de l'Industrie de la Villette) bied 'n reeks permanente en wisselende uitstallings, mediateke, 'n planetarium, die Géode met sy hipermoderne rolprentteater en 'n duikboot wat nou as museum dien. Die omliggende park van 55 ha huisves 'n aantal kulturele instellings soos die Stad van die Musiek (Cité de la Musique).
  • Die Musée Carnavalet in die historiese Hôtel Carnavalet behandel die geskiedenis van Parys van die prehistoriese tydperk tot by die 18de eeu. Hier word die ou sleutels van die Bastille, die Verklaring van Menseregte uit die jaar 1789 en ander voorwerpe en dokumente bewaar.
  • Die Musée du Quai Branly behandel die etniese kuns en kultuur van Afrika, Oseanië en Amerika. Die museum met 'n oppervlak van 39 000 vierkante meter, wat deur die argitek Jean Nouvel ontwerp is, is naby die Eiffeltoring geleë en op 20 Junie 2006 deur die Staatspresident Jacques Chirac ingewy. Sy kunswerke kom oorspronklik uit die Musée de l'Homme en die Musée national d'Arts d'Afrique et d'Océanie; ander objekte is aangekoop of skenkings.

Vermaak

[wysig | wysig bron]
  • Die Grand Rex, opgerig in 1931, is die grootste rolprentteater in Europa met 2 650 sitplekke, ontwerp in die Art Deco-styl en geleë op boulevard Poissonnière.

Winkelhoofstad

[wysig | wysig bron]
Die Grand Rex-rolprentteater, een van Parys se Art Deco-juwele
Kerstyd in die Groot Koepelsaal van die afdelingswinkel Galeries Lafayette

Sestig persent van jaarliks meer as dertig miljoen toeriste, wat 'n besoek aan die Frane hoofstad bring, noem inkopiebesoeke as die hoofrede vir hul reis.[26] Met sowat 62 000 winkels – waarvan sowat 5 500 binne die prêt-à-porter-segment val – maak Parys daarop aanspraak om Europa se hoofstad van handel, mode en kreatiwiteit te wees.

Die groot afdelingswinkels van Parys is tydens die 19de eeu gestig – die oudste van hulle is Le Bon Marché – en bied 'n oordaad van artikels vir elke smaak. Die indrukwekkendstes is Les Galeries Lafayette en Le Printemps met sy opvallende koepel op die Boulevard Haussmann. Le Bon Marché en La Samaritaine bekoor bowendien deur hulle argitektuur. Tati bied die laagste pryse. Die internasionale winkelsentrum Val d'Europe is 'n voorbeeld van 'n hipermoderne inkopiesentrum.

Parys beskik daarnaas oor 'n aantal passages (winkelsentra met 'n oordekte wandellaan as middelpunt) wat as die voorlopers van moderne afdelingswinkels beskou word. Tydens hul bloeityd in die 19de eeu was daar 'n honderdtal passages in die Franse hoofstad, en by drie van hulle wat vandag nog bestaan moet die toeris 'n besoek aflê. Die Passage Jouffroy huisves die wasbeeldemuseum Musée Grévin, terwyl die elegante neoklassisistiese Galerie Vivienne met sy spieëldekorasies en skilderye in die Pompejaanse styl onder meer 'n winkel van die bekende mode-ontwerper Jean-Paul Gaultier huisves. Die Passage des Panoramas is die oudste in Parys.

Infrastruktuur

[wysig | wysig bron]

Straatname

[wysig | wysig bron]
Parys se befaamde blou emaljeborde wat straatname (en dikwels bykomende inligting) aandui

Eeue lank was Parys vir besoekers 'n doolhof met nou en vuil straatjies wat geen name gedra het nie en huise wat nie genommer was nie. In die 15de eeu is daarmee begin om winkels met betreklik groot metaalborde te merk wat aan metaalstange opgehang is. Teen die middel van die 18de eeu is winkels van kleiner plakkette voorsien wat oor hul deure of teen hul fasades aangebring is en waarvan historiese voorbeelde in die Musée Carnavelet besigtig kan word.

Straatname, soos hulle vandag bekend is, het eers vanaf 1728 verpligtend geword – aanvanklik net vir straatkruisings, maar kort voor lank is borde met straatname dwarsoor die stadsgebied aangebring. Parys se befaamde blou emaljeborde het hul verskyning in 1844 gemaak. In enkele historiese kwartiere soos Le Marais is oor die blou borde nog die ou straatname te sien wat in die klip van huisfasades gebeitel is. Baie Paryse strate is verskeie kere hernoem. So is in die tyd van die Franse Rewolusie alle straatname met godsdienstige of monargistiese agtergrond verwyder. Die Rue de Berlin is om politieke redes ná die Eerste Wêreldoorlog hernoem tot Rue de Liège. Soms het ook plaaslike bewoners op naamwysigings aangedring – soos in die rooiligbuurt rondom die Rue Poil-au-Coin ('n straatnaam wat opsigself as aanstootlik ervaar is omdat dit as "Straat van die Harige Agterste" vertaal kan word), tans bekend as Rue Pélicain.

Lig in die «Stad van Ligte»

[wysig | wysig bron]

In 1318 kon daar nog nouliks sprake wees van 'n "Stad van Ligte" nie – tenminste nie gemeet aan die aantal openbare lanterne. In totaal was daar drie – een voor die vesting Grand Châtelet (wat destyds as gevangenis gedien het), een by die Nesle-toring (geleë langs die Seine by die mees westelike punt van die stadsmuur vir die oriëntasie van skepe) en een by die begraafplaas Cimetière des Innocents – die "Lantern van oorledenes".

Hoe meer straatrowers en moordenaars die duisternis die duisternis hul skuilplek gemak het, hoe meer het 'n behoefte aan een of ander vorm van straatbeligting ontstaan. In die eerste helfte van die 16de eeu – tydens die regentskap van die konings Lodewyk XII, Frans I en Hendrik II – is Parysenaars verplig om tenminste een venster straatkant toe met 'n kers te verlig. Desondanks is elke nag 'n gemiddeld van vyftien mense op Paryse strate vermoor.[27] So is in 1662 'n mobiele beligtingstelsel ingevoer waarvoor nagwagters aangestel is om nagtelike voetpatrollies te hou. Waar moontlik, is Parysenaars op pad huis toe van wagters met fakkels of olielampe begelei. Vir hierdie diens moes betaal word na gelang van die brandstof wat verbruik is.

Koning Lodewyk XIV het tydens sy regentskap (tussen 1643 en 1715) sowat 3 000 straatlanterns laat installeer wat geleidelik deur olielampe vervang is. In 1837 was daar reeds 37 000 van hulle. 240 lampaanstekers is aangestel om die lampe binne 'n driekwart uur na sononder aan te steek. In die Restourasietydperk is met die installasie van gaslampe begin. In 1845 was daar reeds sowat 8 000 van hierdie lampe. Die eerste elektriese straatbeligting is in 1878 op die plein Place de l'Opéra geïnstalleer.

Die mees onlangse tegniese innovasie is halogeenlampe wat onder meer gebruik word om die beeldhouwerke en ander argitektoniese besonderhede en versierings van brûe kunsvol te belig. Die Eiffeltoring is 'n uitsondering – dit word nie volgens die tradisionele manier met vloedligte van buite belig nie, maar van binne.

Vervoer

[wysig | wysig bron]
Le Ciel de Paris – die "Hemel van Parys" – is 'n treffende naam vir 'n restaurant in die wolkekrabber Tour Montparnasse, tans die tweede hoogste gebou in Frankryk

Parys en die omliggende Île-de-France beskik oor drie internasionale lughawens met jaarliks meer as 100 miljoen passasiers – Roissy-Charles de Gaulle (sowat 25 km noord van Parys, met 61,6 miljoen passasiers in 2012), Orly (14 km suid van Parys, met 27,2 miljoen passasiers in 2012) en Parys-Beauvais (84 km noord van Parys naby Beauvais in Pikardië, met 3,9 miljoen passasiers in 2012). Die lughawe Charles de Gaulle is die derde grootste en Orly die negende grootste in Europa.

Die ses stasies van die Franse Spoorweë (Société nationale des Chemins de Fer Français, SNCF) is Gare du Nord, Gare de l'Est, Gare de Lyon, Gare d'Austerlitz, Gare Montparnasse en Gare Saint-Lazare. Openbare vervoerdienste word deur die RATP verskaf (Métro, busse, tramway en RER). Die stadstreine van die RER (Réseau Express Régional) beskik oor vyf linies wat tussen 5:30 en 0:30 uur ry.

Die Paryse Métropolitain is deur die ingenieur Fulgence Bienvenue ontwerp, maar dit is die kunstenaars wat die stasies tot kunswerke veral in die Art Déco-styl omskep. Vandag is daar nog sowat 90 van hierdie Art déco-pawiljoene.

Die Métro of Paryse moltrein, met veertien linies, sowat driehonderd stasies en 'n netwerk van sowat 200 kilometer, is die belangrikste openbare vervoermiddel met daagliks sowat vyf miljoen passasiers. Tegelykertyd is dit 'n soort Parys in 'n neutedop. In spitstye wemel dit van duisende beroepsmense, maar vir die grootste deel van die dag is dit die wêreld van die dakloses (les clochards of les sans-abri), die musikante en kleinhandelaars.

Sport

[wysig | wysig bron]
Binnekant van die Stade de France in Saint-Denis, net noord van Parys
Binnekant van Parc des Princes in Parys
Die Roland Garros-stadion, waar jaarliks die Franse Ope gehou word

Parys is een van min stede wat reeds twee keer die Olimpiese Somerspele aangebied het: 1900 en 1924. Die komende Olimpiese Somerspele 2024 sal weer in Parys gehou word, waarmee dit net ná Londen die tweede stad wêreldwyd sal word om drie Olimpiese Somerspele te huisves.

Die Tour de France, die bekendste en belangrikste fietswedren ter wêreld, begin en eindig tradisioneel in Parys. Net tydens spesiale geleenthede begin of eindig dit elders.

Rugby

[wysig | wysig bron]

Van Parys se bekende rugbyspanne sluit in Racing 92 en Stade Français. Internasionale wedstryde word op die Stade de France in Saint-Denis, net noord van Parys, gespeel. Die eindstryd van die Rugbywêreldbeker 2007 tussen die Springbokke van Suid-Afrika en die Engelse nasionale rugbyspan is op 20 Oktober 2007 hier beslis, en deur die Springbokke met 15–6 gewen. Die Rugbywêreldbeker 2023-eindstryd, wat die Springbokke teen die Nieu-Seelande All Blacks met 12–11 kon wen, is ook hier beslis, dié keer op 28 Oktober. Die Stade de France word tydens die Sesnasies-toernooi as Frankryk se tuisstadion ingespan.

Sokker

[wysig | wysig bron]

Die Paryse Paris Saint-Germain is een van die Ligue 1 se suksesvolste sokkerspanne. Hulle het die liga reeds nege keer gewen en agt keer as naaswenner geëindig. Hul tuisstadion is die Parc des Princes. Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1938 se eindstryd is op die Paryse Stade Olympique de Colombes gespeel, terwyl die eindstryd van beide die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1998 en Europese Sokkerkampioenskap 2016 op die Stade de France gehou is.

Tennis

[wysig | wysig bron]

Tussen middel-Mei en vroeg-Junie word vir twee weke een van die mees prestigeryke kampioenskappe in tennis aangebied: Die Franse Ope. Dit vorm saam met die Australiese Ope, Wimbledon-kampioenskap en VSA Ope die vier "Grand Slam"-toernooie van elke jaar.

Internasionale verhoudings

[wysig | wysig bron]

Die Italiaanse hoofstad Rome is tans die enigste amptelike susterstad van Parys. Met ander metropole en stede is nogtans ooreenkomste oor samewerking en vriendskaplike verhoudinge onderteken.

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Vennootskappe

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (fr) insee.fr: Statistiques. Besoek op 27 Februarie 2019
  2. (en) "Olympic Games: Paris & LA to host 2024 & 2028 respectively". BBC. 13 September 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Maart 2020. Besoek op 15 September 2017.
  3. (fr) Ernest Nègre (1990). Toponymie générale de la France. Librairie Droz. p. 155. ISBN 978-2-600-02883-7.
  4. 4,0 4,1 4,2 (fr) Alexander Falileyev (2010). Dictionary of Continental Celtic Place-names: A Celtic Companion to the Barrington Atlas of the Greek and Roman World. CMCS. ISBN 978-0-9557182-3-6.
  5. (fr) Pierre-Yves Lambert (1994). La langue gauloise: description linguistique, commentaire d'inscriptions choisies. Errance. p. 38. ISBN 978-2-87772-089-2.
  6. (fr) Xavier Delamarre (2003). Dictionnaire de la langue gauloise: Une approche linguistique du vieux-celtique continental. Errance. p. 211. ISBN 978-2-87772-369-5.
  7. (fr) Xavier Delamarre (2003). Dictionnaire de la langue gauloise: Une approche linguistique du vieux-celtique continental. Errance. p. 247. ISBN 978-2-87772-369-5.
  8. (fr) Xavier Delamarre (2003). Dictionnaire de la langue gauloise: Une approche linguistique du vieux-celtique continental. Errance. p. 247. ISBN 978-2-87772-369-5.
  9. (en) Peter E. Busse (2006). "Belgae". In John T. Koch (red.). Celtic Culture: A Historical Encyclopedia. ABC-CLIO. pp. 195–200. ISBN 978-1-85109-440-0. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2020. Besoek op 19 Augustus 2020.
  10. (fr) "Données climatiques de la station de Paris". Meteo France. 15 September 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 April 2020. Besoek op 15 September 2017.
  11. (fr) "Normales et records pour la période 1981–2010 à Paris-Montsouris". Infoclimat.fr. Besoek op 22 Julie 2015.
  12. (en) Colin Jones: Paris. Biography of a City. London: Penguin Books 2006. Kindle e-boek-uitgawe, pos. 497
  13. (en) Jones (2006), pos. 522
  14. (en) www.catholic-saints.net: St Genevieve Catholic Church Biography, Patron Saint Life Prayers. Besoek op 20 Februarie 2019
  15. (de) Bernhard Schulz: Wie Paris zur Weltstadt wurde. In: Der Tagesspiegel, Berlyn, 21 November 2010
  16. (de) Dr. Madeleine Reincke en Hilke Maunder: Paris. Ostfildern: Mairdumont – Karl Baedeker 2013, bl. 29
  17. (en) BBC Culture, 26 Januarie 2016: The man who created Paris. Besoek op 17 Februarie 2016
  18. (de) Martina Padberg: Paris. Kunst & Architektur. Potsdam: H.F. Ullmann Publishing 2013, bl. 18
  19. (en) Demographia – Ville de Paris Population History: Analysis and Data. Besoek op 3 Maart 2019
  20. (fr) Le Monde, 15 Januarie 2015: Attentats terroristes : les questions que vous nous avez le plus posées. Besoek op 24 November 2015
  21. (fr) Le Figaro, 11 Januarie 2015: Les politiques s'affichent à la marche républicaine. Besoek op 24 November 2015
  22. (en) BBC News/bbc.com, 14 November 2015: Paris attacks: Hollande blames Islamic State for 'act of war'. Besoek op 24 November 2015
  23. (de) Reincke/Maunder (2013), bl. 16
  24. (de) Lisa Davidson & Elizabeth Ayre: Der National Geographic Traveler: Paris. Tweede hersiene uitgawe. Hamburg: National Geographic Deutschland 2004, bl. 94
  25. (en) Microsoft News / The Independent, 3 Julie 2019: Paris to ban tourist buses from city centre. Besoek op 3 Julie 2019
  26. (en) Paris Convention and Visitors Bureau: Paris Shopping. Besoek op 12 Maart 2019
  27. (de) Lisa Davidson & Elizabeth Ayre: Der National Geographic Traveler Paris. Tweede hersiene uitgawe. Hamburg: National Geographic Deutschland 2004, bl. 108
  28. 28,00 28,01 28,02 28,03 28,04 28,05 28,06 28,07 28,08 28,09 28,10 28,11 28,12 28,13 28,14 28,15 28,16 28,17 28,18 28,19 28,20 28,21 28,22 28,23 28,24 28,25 28,26 28,27 28,28 28,29 28,30 28,31 28,32 28,33 28,34 28,35 28,36 28,37 28,38 28,39 28,40 28,41 (fr) "International relations: special partners". Mairie de Paris. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Desember 2021. Besoek op 14 Desember 2021.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Amptelike webwerwe

Ensiklopediese inligting

Privaat webwerwe

Reisgidse

Media

Die départements van Frankryk (Départements français)
Metropolitaanse Frankryk (France métropolitaine

01 Ain | 02 Aisne | 03 Allier | 04 Alpes-de-Haute-Provence | 05 Hautes-Alpes | 06 Alpes-Maritimes | 07 Ardèche | 08 Ardennes | 09 Ariège | 10 Aube | 11 Aude | 12 Aveyron | 13 Bouches-du-Rhône | 14 Calvados | 15 Cantal | 16 Charente | 17 Charente-Maritime | 18 Cher | 19 Corrèze | 2A Corse-du-Sud | 2B Haute-Corse | 21 Côte-d'Or | 22 Côtes-d'Armor | 23 Creuse | 24 Dordogne | 25 Doubs | 26 Drôme | 27 Eure | 28 Eure-et-Loir | 29 Finistère | 30 Gard | 31 Haute-Garonne | 32 Gers | 33 Gironde | 34 Hérault | 35 Ille-et-Vilaine | 36 Indre | 37 Indre-et-Loire | 38 Isère | 39 Jura | 40 Landes | 41 Loir-et-Cher | 42 Loire | 43 Haute-Loire | 44 Loire-Atlantique | 45 Loiret | 46 Lot | 47 Lot-et-Garonne | 48 Lozère | 49 Maine-et-Loire | 50 Manche | 51 Marne | 52 Haute-Marne | 53 Mayenne | 54 Meurthe-et-Moselle | 55 Meuse | 56 Morbihan | 57 Moselle | 58 Nièvre | 59 Nord | 60 Oise | 61 Orne | 62 Pas-de-Calais | 63 Puy-de-Dôme | 64 Pyrénées-Atlantiques | 65 Hautes-Pyrénées | 66 Pyrénées-Orientales | 67 Bas-Rhin | 68 Haut-Rhin | 69 Rhône| 70 Haute-Saône | 71 Saône-et-Loire | 72 Sarthe | 73 Savoie | 74 Haute-Savoie | 75 Parys | 76 Seine-Maritime | 77 Seine-et-Marne | 78 Yvelines | 79 Deux-Sèvres | 80 Somme | 81 Tarn | 82 Tarn-et-Garonne | 83 Var | 84 Vaucluse | 85 Vendée | 86 Vienne | 87 Haute-Vienne | 88 Vosges | 89 Yonne | 90 Territoire de Belfort | 91 Essonne | 92 Hauts-de-Seine | 93 Seine-Saint-Denis | 94 Val-de-Marne | 95 Val-d'Oise |  
Oorsese départements (Départements d’outre-mer
971 Guadeloupe | 972 Martinique | 973 Frans-Guyana | 974 Réunion | 976 Mayotte  
Andere oorsese gebiede:  
Oorsese kollektiewe gebiede (Collectivités d’outre-mer
Saint-Martin (collectivité territoriale) | 975 Sint Pierre en Miquelon (collectivité territoriale) | Sint Bartholomeus‎ (collectivité territoriale) | 986 Wallis en Futuna (territoire) | 987 Frans-Polinesië (pays d’outre-mer)  
Spesiaal statuut (Statut spécifique
Nieu-Kaledonië  
Onbewoonde gebiede (Territoires inhabités
Franse Suidelike en Antarktiese Gebiede | Clipperton

Die administratiewe verdeling van Frankryk: Régions - Départements - Arrondissemente - Kantons - Communes